Local sportSport

Plaaslike rugby steeds stadig uit die blokke ná inperkingstyd

Die langverwagte vriendskaplike rugbywedstryd tussen die Kwagga-rugbyspan van Bela-Bela en die Amandelbult-klub van Thabazimbi het weens onvoorsiene redes nie op Saterdag 8 Mei plaasgevind nie.

Amandelbult se klubbestuur het op kort kennisgewing aangedui dat hulle van die geleentheid onttrek.

Die Kwaggas, wat met afwagting uitgesien het na die kragmeting, het daarna hul klublede in twee spanne verdeel en hul vaardighede op die velde van Hoërskool Warmbad op die proef gestel.

“Ek dink onder omstandighede was dit ’n baie lekker wedstryd. Daar was goeie gees tussen die spelers en almal het geniet om weer die bal te hanteer,” het Drummond Hammond, klubvoorsitter, aan Die Pos gesê.

“Dit was ’n gulde geleentheid om te sien waar skort vaardighede.”

Hammond het gesê spelers se fiksheid en spelpeil is ewe belangrik. Die Waterberg-liga skop binnekort af en dit verg stamina van spelers om aan strawwe klubwedstryde te voldoen.

Van die klubspanne moet nog aandui of hulle aan die liga gaan deelneem. Die Kwaggas sal na verwagting op Vrydag 14 Mei teen die Mogol-rugbyklub van Lephalale uitdraf.

Meer inligting sal later in die week bekend gemaak word. Ongelukkig word toeskouers in gevolge die Covid-19-maatreëls steeds nie toegelaat nie.

“Talle klubs en skolerugby het in die Covid-19-tydperk swaargekry. Ons was gelukkig dat ons span gegroei het,” het Hammond gesê.

“Ons is hard aan die werk om spelers voor te berei vir ’n sewesliga, maar soms gebeur dit dat spelers se werkverpligtinge hulle weerhou van oefeninge of wedstryde.”

Die Kwaggas spog tans met ’n ledetal van 55 spelers. Hammond het verder gesê afrigters en spelers sien met groot verwagtinge uit na die Waterberg-liga se afskop.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button