CrimeNews

Skok omdat talle betogers blote kinders is

’n Hofinterdik is vandeesweek inderhaas aangevra nadat Vaalwater op Maandag 3 Mei deurgeloop het onder grootskeepse betogings waartydens die R33-deurpad, asook die Melkrivierpad, deur ontstoke inwoners versper is en skade in en om die dorp aangerig is.

Die betogings het op Dinsdagoggend 4 Mei hervat en inwoners het daarop aangedring dat plaaslike owerhede hulle moet toespreek oor hul griewe.

Die meeste winkels het Maandag hul deure gesluit uit vrees vir gewelddadige betogers. Teen druktyd vandeesweek het Die Pos verneem dat skole in die Leseding-woongebied tydelik gesluit is totdat die situasie ontlont is.

Die polisie is reeds vroeg Maandagoggend ontbied en het saam met lede van die die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) probeer om wet en orde te handhaaf.

Die hulp van polisiebeamptes in naburige dorpe soos Modimolle en Lephalale is ook ingeroep. Lede van die publieke orde polisie (Pops) het met Njala-pantservoertuie opgedaag om die oproerige skare uitmekaar te jaag en weg te dwing van die hoofstraat en sakeondernemings.

Volgens Herman Steyn, Die Pos se fotograaf wat Maandag op die toneel was, was hy geskok om te sien hoe jonk talle van die betogers was.

“Ek skat van hulle tot so jonk as agt of 10 jaar. Hulle was baie uitlokkend en aggressief.”

Ooggetuies het gesien hoe van dié kinders glasbottels en klippe na polisiebeamptes en motors slinger en paaie versper met winkelrakke en rommel. Die Pos het verskeie berigte ontvang van winkels en geboue wat beskadig is, maar kon nie teen druktyd bevestig wat die omvang van die skade is nie.

Die plaaslike munisipale kantoor het wel skade opgedoen toe vensters met klippe stukkend gegooi is en skade aan voertuie in die parkeerterrein aangerig is. Een van die skole in die Leseding-woongebied is na bewering ook beskadig en ’n onderwyser wat die kwaadstokers wou keer is glo aangerand.

Die Pos het ook ’n onbevestigde berig ontvang van ’n werker by ’n lodge in die Welgevonden-omgewing wat glo aangerand is. Talle inwoners het aan die koerant gesê hulle is geïntimideer en gedreig. Volgens Christo Venter, voorsitter van die GPF in Vaalwater, en Zack Sekhu, ondervoorsitter, is hulle diep bekommerd oor die hoeveelheid minderjarige seuns (onder 16) wat aan die betoging deelgeneem het.

“Waar is hulle ouers? Ons weet van talle bejaardes in die Leseding-woongebied wat in absolute vrees leef vir hierdie militante opstokers,” het hy gesê.

Lede van die landelike veiligheid strukture in Modimolle, Lephalale en Alma is Maandag versoek om by NTK en Obaro byeen te kom om beskerming aan inwoners te bied en plundery te voorkom.

Die lede het na afloop van die betogings gehelp om die strate op te ruim sodat die R33-deurpad na Lephalale kon heropen. Venter het beklemtoon dat dié lede op versoek van kapt. William Mpete, stasiebevelvoerder van Vaalwater, bystand gebied het en te alle tye gehoor gegee het aan die Pops-bevelvoerder wat in beheer was.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is dit reeds die vierde betoging wat verband hou met Sanral se plan om die R33-deurpad en brûe tussen Vaalwater en Lephalale te herstel.

Betogers dring glo daarop aan om as padwerkers aangestel te word. Sanral het reeds die hoofkontrakteur, G4 Mining & Civils, aangestel en het onlangs die verslag oor die subkontrakteurs bekend gemaak wat blykbaar bygedra het tot die gemeenskap se ontevredenheid.

Een van die eise van die betogers is dat die bestaande databasis, wat die name van ongeveer 1 700 lede van die gemeenskap bevat wat voorheen werkloos was, geskrap moet word sodat alle werkers in aanmerking kan kom vir die toekomstige aanstellings.

Volgens Van Staden behoort Sanral die subkontrakteurs teen einde Mei aan te wys waarna die proses om padwerkers aan te stel kan begin.

“Hierdie aangeleentheid sorteer direk onder Sanral en nie onder die plaaslike munisipaliteit nie,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het alle vorme van geweld en saakbeskadiging ten sterkste veroordeel. ’n Dringende vergadering is intussen met verteenwoordigers van die munisipaliteit, raadslede, polisiebeamptes en die GPF, asook verteenwoordigers van die gemeenskap en sakelui, gehou.

Van Staden het op Dinsdag 4 Mei om 17:00 die gemeenskap toegespreek.

Sy het aan Die Pos gesê: “Die grootste ontevredenheid is oor die aanstelling van werkers vir die Sanral-projekte. Ons het weer die proses aan hulle verduidelik en sal tydens die raadsvergadering op Woensdag 5 Mei om 09:00 die databasiskwessie bespreek.”

Lede van die gemeenskap het die plaaslike owerheid versoek om ’n dringende vergadering met verteenwoordigers van Sanral te reël.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, waaronder Vaalwater val, het op Dinsdag 4 Mei ’n interdik teen die betogers, en spesifiek Andries Maruma Moima, wat glo as leier optree, gekry om hulle te verhoed om enige verdere skade aan die infra- struktuur aan te rig of mense te bedreig of intimideer.

Related Articles

Back to top button