Local newsNews

Moedersdag: Die hartbreekkant van moederskap

Talle ma’s sal saamstem dat dit wonderlik was om hul pasgebore babas vir die eerste keer te kon vashou.

Daarteenoor is dit ook die grootse hartverskeurende oomblik wanneer ’n ma haar kind vir die laaste keer vashou.

Die Pos het op die vooraand van Moedersdag (Sondag 9 Mei) met Lourin Botes Viljoen van Modimolle gesels oor die verlies van haar geliefde seun, Wibo (25), wat verlede April onverwags dood is.

“Wibo was sy noemnaam. Sy volle name is Wiets Botes Viljoen. Hy is vernoem na my pa,” het sy gesê.

Wanneer Lourin oor haar seun praat, helder haar gesig op.

“Wibo was lief vir mense en sy motto was om elke dag minstens een goeie daad vir iemand te doen. Hy het uitgereik na mense en die vermoë gehad om enigiemand op te beur of te laat skaterlag. Hy het selfs in sy kinderdae soos ’n hanswors aangetrek om maatjies te vermaak by kinderpartytjies. Hy het ook graag gesing of kitaar en dromme gespeel.”

“Hy was ’n gebore entrepreneur wat vroeg-vroeg gewoeker het met ’n snoepie vanuit sy ouerhuis en selfs op ’n tyd daagliks gesondheidsbrode gebak het. Met die geld wat hy gespaar het, het hy sy eerste beeste by sy oupa Wiets gekoop. Hy het ook op ’n tyd ’n klein varkboerdery gehad.

“Hy was lief vir kosmaak en kon die heerlikste souse optower. Sy geesdrif vir die lewe was aansteeklik en hy het dit geniet om naweke of vakansies saam met sy gesin en vriende te baljaar.”

Lourin is ’n opgeleide onderwyser en het al drie haar kinders, ouboet Jandré, Wibo en kleinsus Cara, tuis onderrig.

Sy en haar man, Albert Viljoen, het in 2015 ’n privaatskool in Modimolle, Modimolle Christian Academy, of Modicademy, begin. Wibo was voor sy dood in ’n verhouding met Germarie de Beer (24), ’n opgeleide onderwyser wat by Modicademy gewerk het.

Dit was hulle droom om eendag die leisels by sy ouers oor te neem. Intussen het Wibo in ’n tegniese rigting studeer en die laaste twee jaar van sy lewe by ’n maatskappy in Modimolle gewerk wat WiFi-installasies doen.

“Wibo se dood was vir ons ’n geweldige skok waarvoor geen moederhart ooit voorbereid kan wees nie. Ek onthou elke klein detail van daardie nagmerrie-dag en al die onopgeloste vrae rondom sy dood. My mamma-hart het in duisend stukke gebreek. Dit is ’n ondraaglike verlammende pyn. Net deur die Here se genade kon ek mettertyd begin om weer die stukke van my hart vas te plak, maar daar is nog plek-plek gate. Daar sal altyd ’n leë plek aan tafel wees, ’n leë sitplek langs my in die kerk en sy leë tuinwoonstel by ons huis. ’n Mens kom nooit oor jou kind se dood nie, maar met genade van Bo kom ons daardeur.”

Volgens Lourin het daar berusting by haar gekom dat haar seun nou op ’n beter plek is waar liefde sy suurstof is en waar hy vry is van soveel dinge waarmee hy geworstel het.

“My hartswens was om hom te sien as getroude man en pa.”

Sy naaste familie het ’n lewensvieringsgeleentheid vir Wibo op Sondag 10 Mei verlede jaar gehou.

Die geleentheid is deur middel van tegnologie op die internet uitgesaai. Dit sou daardie dag sy 25ste verjaardag gewees het wat ook saamgeval het met Moedersdag.

“Die Vader het Wibo vir 25 jaar aan ons geleen om ons lewens uitermate te verryk. My moederhart hou vas aan elke kosbare herinnering oor al die jare, elke skaterlag en drukkie wat ons gedeel het. Al maak dit my hartseer, wil ek alles van hom onthou en niks vergeet nie. Ons word getroos om te glo dat ons hom eendag weer in die hiernamaals sal sien.”

Related Articles

Back to top button