MunicipalNews

Burgemeester sê bedrogklagtes teen haar is laat vaar

Marlene van Staden, Modimolle-Mookgophong-burgemeester, het die afgelope week ’n onaangename verrassing gehad nadat ’n Pretoriase dagblad ’n voorbladberig geplaas het waarin berig word dat die inspektoraat vir prioriteitsmisdade (Die Valke) bedrogklagtes teen haar ondersoek.

Van Staden het die berig as ongegrond beskryf en gesê dit is “ou nuus”.

Die Pos het self sowat ’n jaar gelede reeds hieroor berig. Volgens Van Staden is die ondersoek reeds afgehandel.

Die Pos het in 2020 berig dat klagtes teen Van Staden ondersoek word weens reiskoste wat sy na bewering onreëlmatig geëis het. Sy het die aantygings destyds reeds ontken. Sy het aangevoer dat die klaer in die saak kwaadwillige bedoelings gehad het toe hy die klagte teen haar gelê het.

Die voertuig ter sprake was ’n dubbelkajuit Isuzu-bakkie, wat Van Staden as ’n ampsvoertuig gebruik het. Die voertuig het aan die munisipaliteit behoort.

Kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, het destyds gesê die ondersoek is ingestel oor die tydperk waarin die beweerde oortreding plaasgevind het. Daar is gefokus op die reiskoste wat glo geëis is.

Dit het geblyk dat die eis vir ’n amptenaar was wat van ’n privaat voertuig gebruik gemaak het en nie ’n amptelike voertuig nie. Die transaksies op Van Staden se brandstofkaart is ook deeglik nagegaan.

Van Staden het in reaksie aan Die Pos oor die jongste voorval gesê die beweringe is vals en ongegrond.

Sy het die betrokke joernalis se stellings as onprofessioneel bestempel en gesê die koerant het foutiewe inligting gepubliseer.

Volgens haar kan ’n raadslid brandstofuitgawes van die munisipaliteit terugeis wanneer die amptenaar munisipale pligte uitgevoer het en hul eie voertuig, op eie onkoste, in die proses gebruik het.

“Ek het nog nooit in al my jare as burgemeester ’n eis vir reiskoste ingedien nie. Joernaliste is welkom om dit met die munisipale bestuurder te bevestig,” het sy gesê.

“Raadslede se salarispakkette, soos uiteengesit en saamgestel deur die minister van samewerkende regering, tradisionele sake (Cogta), bevat ’n byvoordeel dat hulle ’n reistoelae kan ontvang.”

Van Staden het verder gesê die Valke het haar destyds persoonlik ingelig dat die klagtes teen haar teruggetrek was.

Die Valke het glo geen nuwe getuienis gevind om haar verder te vervolg nie, het sy gesê.

“Hierdie ongegronde bewerings is voorheen al teen my gebring. Die inligting is misleidend en is dieselfde soort goedkoop politiek as wat destyds gedryf is,” het sy gesê.

Van Staden het aangedui dat sy die saak verder gaan neem met die persombudsman.

  • Maluleke is herhaaldelik vir kommentaar geskakel, maar het teen druktyd geen nuwe inligting aan Die Pos bekendgemaak nie.

Related Articles

Back to top button