MunicipalNews

Kommer oor grondeise in Bela-Bela

Ongeveer 56 grondeise is sedert 2001 in die Bela-Bela-omgewing deur die provinsiale grondeise-kommissie geregistreer waarvan 39 glo nog nie afgehandel is nie.

’n Kykie in die Bela-Bela-munisipaliteit se jongste geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) toon dat altesame 30 grondeise in die Bela-Bela-munisipale gebied reeds in die Staatskoerant gepubliseer is.

Dit beslaan ongeveer 109 061 ha. Daar is slegs drie eiendomme (5381,6 ha landbougrond) in die omgewing wat reeds aan begunstigdes oorgedra is as deel van wettige grondrestitusieprosesse.

’n Nuwe grondeis is egter in Februarie vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer ingevolge waarvan die Tlapaneng-gemeenskap aandring op twee gedeeltes —Roodekuil 496 KR en Vlaklaagte 22 JR. Dié aansoek is na verneem word in 1998 gebring, maar eers nou gepubliseer.

Die eis sluit ongeveer 115 eiendomme in waarvan die meeste as landbougrond bedryf word. Luidens die GOP word ondersoek nou ingestel na die geldigheid van dié grondeise in die munisipale gebied.

Die munisipaliteit dui in sy GOP-plan aan dat hy bekommerd is dat grondeise ’n negatiewe invloed op die dorp se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk kan hê.

Die munisipaliteit het verder aangedui dat kommentaar van betrokke partye in die landbousektor daarop dui dat die meeste van die grondeisaansoekers nie daarin belangstel om die grond te verbou nie.

Kenners met wie Die Pos gepraat het, meen indien landbougrond bekom, maar nie bewerk word nie, kan dit ernstige gevolge vir voedselsekuriteit en die plaaslike ekonomie inhou.

Grondeise kniehalter ook beleggings en die onsekerheid het ’n wesenlike invloed op die landboubedryf.

Tinus Ras, DA-raadslid van Bela-Bela, het in reaksie gesê die gesloer met die toekenning van grondeise maak die gevaar van onwettige grondgrype hoër. Behuising bly ’n knelpunt.

“Dit lei daartoe dat die plaaslike munisipaliteit, wat deur belastingbetalers befonds word, infrastruktuur by informele nedersettings tot stand moet bring. Die las op belastingbetalers word al hoe groter, want die hulpbehoewendes word al hoe meer,” het hy gesê.

Hy het gesê die regering slaan nie ag op die ekonomiese invloed wat grondonteiening op munisipale vlak teweegbring nie.

Die Pos het navrae gerig aan die department van landbou en grondhervorming, asook die munisipaliteit, maar teen druktyd geen reaksie ontvang nie.

  • Die munisipaliteit se begroting vir die 2021/2022-boekjaar, asook die GOP-plan, word op Maandag 3 Mei om 17:00 by Laerskool Warmbad met die gemeenskap bespreek.

Related Articles

Back to top button