MunicipalNews

Onwettige staking laat Bela-Bela met skade van meer as R1 miljoen

Die onwettige protesaksie wat in Maart deur lede van die Suid-Afrikaanse munisipale vakbond (Samwu) in Bela-Bela uitgevoer is, het die munisipaliteit meer as R1 miljoen gekos.

Amptenare het tydens die uitvoerende komiteevergadering op Vrydag 23 April die gevolge van die betoging bespreek. Die bevindinge is aan Die Pos verskaf.

Die betoging het van 11 tot 18 Maart plaasgevind. Betogers was ontevrede oor ’n beloofde Covid-19-toelae wat hulle nie ontvang het nie weens ’n gebrek aan geld by die munisipaliteit.

Die toelae is in 2020 in beginsel oorweeg tydens ’n arbeidsforumvergadering tussen amptenare en die betrokke werkers, maar dit het nie gerealiseer nie.

Die ongeveer 243 betogers, insluitend hul organiseerders, het die dorp op sy kop gekeer deur die strate in te vaar, rommel te strooi, brandkrane oop te dra en sypaadjies te beskadig.

Die munisipale geboue se binnekant is ook bemors en die kliëntedienssentrum was vir die publiek gesluit vir die duur van die staking.

Private sakelui en weldoeners het self ingespring en vullis wat die strate vol gelê het, opgeruim.

Die arbeidshof het egter die betogers se planne in die wiele gery en bevind die protesaksie is onwettig.

Die hof het die werkers gewaarsku om terug te keer werk toe. Die werkers het na verneem word weer op Vrydag 19 Maart teruggekeer werk toe, uitsluitende die organiseerders van die protesaksie. Hoewel dienslewering hervat is, het daar ’n opmerklike agterstand in onder meer vullisverwydering in die dorp en omgewing ontstaan.

Vullis het weke lank in die strate gelê. Luidens die uitvoerende komiteeverslag is ’n opvolgarbeidsforumvergadering tydens die betoging belê, maar ’n gebrek aan geld en die feit dat die munisipaliteit nie aan die provinsiale tesourie se vereistes voldoen nie, het veroorsaak dat die toelae nie uitbetaal kon word nie.

Die munisipaliteit moes enorme uitgawes tydens die staking aan regsfooie opdok en het ook ’n verlies aan inkomste gely.

Dissiplinêre stappe teen die organiseerders, wat ook in diens van die munisipaliteit is, sal na verneem word eersdaags geneem word.

Hulle is reeds geskors hangende ’n ondersoek. Luidens die verslag word ’n lys van beskadigde munisipale infrastruktuur tans saamgestel en sal Samwu moontlik persoonlik vir die skade aanspreeklik gehou word. Die skade word tans op sowat R1 501 949,26 beraam.

Die munisipaliteit het aangedui hy sal voortaan streng volgens die munisipale gedragskode optree indien werkers hulle aan wangedrag skuldig maak.

Related Articles

Back to top button