Local sportSport

Atlete pak langpad aan vir liefdadigheid

Atlete wat tydens die inperking gekla het hulle kan nie aan wedlope deelneem nie, kan nou die spiere losmaak en die fietswiele olie, want op Woensdag 26 Mei word die “Sterkman-sportgeleentheid”, wat strek van Polokwane na Bela-Bela, aangebied.

Die wedloop strek oor ’n afstand van 200 km. Atlete sal tydens die eerste skof die sowat 100 km tot in Mokopane hardloop en dan op hul fietse die finale skof van 100 km tot in Bela-Bela aflê.

Die byeenkoms word gereël deur bekende sakeondernemings van Bela-Bela, in samewerking met die Run Boiki Run-sportontwikkelingsorganisasie, om geld vir liefdadigheid en sportontwikkeling in te samel.

Hendrik “Boiki” Monareng, veteraanatleet, het by navraag aan Die Pos gesê atlete spring om middernag in Polokwane weg.

Hulle beplan om teen ongeveer 12:00 by die halfpadmerk in Mokopane te wees.

“Atlete hoef nie vir die volle duur van die wedloop deel te neem nie. Hulle kan by ons aansluit in Polokwane, Mokopane of Mookgophong. Vanaf Mokopane voltooi ons die fietswedren-gedeelte tot in Bela-Bela,” het Monareng gesê.

“Ons nooi alle Comrades-atlete en ander langafstandatlete en fietsryers om hul fiksheid en voorbereiding vir die Comrades-wedloop, op die proef te stel. Daar is reeds sowat 50 atlete en 20 fietsryers wat ingeskryf het.”

Hierdie sal die sewende geleentheid van sy soort wees. Monareng het gesê daar is verlede jaar — nadat die inperkingsmaatreëls verslap is — ’n geslaagde fietswedren van Beitbrug tot in Bela-Bela gehou.

Monareng beplan om in Oktober vanjaar die langpad van Kaapstad na Bela-Bela (1 690 km) saam met ander ywerige fietsryers aan te durf.

Die inskrywingsfooie beloop R50. Alle geld gaan vir liefdadigheid, het hy gesê.

“Elke deelnemer sal ’n geskenkpak ontvang vir die Polokwane-wedloop. Ons vra dat meer ondernemings by die inisiatief betrokke raak vir moontlike borgskappe.”

Belangstellendes kan vir Monareng bel by tel. 076 181 2592 of by tel. 064 823 7118 of vir hom e-pos stuur na runboikirun@gmail.com(.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button