Local newsNews

Plaaslike manne se gedigte in nuwe bundel opgeneem

Die Pos is baie trots op twee inwoners van Thabazimbi, Vollie Volschenk en ons eie FC Pelser wie se gedigte onlangs in die Genootskap vir die handhawing van Afrikaans (GHA) se jaarlikse bloemlesing opgeneem is.

F.C. Pelser

 

Ons plaas vandeesweek dié twee manne se gedigte wat in die bundel, Stemme uit die Suiderland opgeneem is.


ONS HUIS
deur Vollie Volschenk

Ek wil vir ons ’n droomhuis bou,
met dik sandklip mure
en ’n swaar gekerfde houtdeur
wat al die onheil
en storms kan weerstaan.
Met ’n sinkdak,
sodat ons in die somer
die reën kan hoor
en as winter se koue
die sink laat kraak.
Met groot vensters
waardeur ons ver
oor die Hoëveldse vlaktes
kan tuur
verby die treurwilgers
op die spruit se wal
en kleurryke kosmosse
langs die pad.
In die groot kombuis
’n swart koolstoof
en ’n kaggel in die voorhuis.
’n Hoë koper hemelbed in ons kamer
waar ons saam
ons drome en liefde kan deel.
Dan sal ons saans op die breë stoep
saam die son sien ondergaan
in alle kleurskakerings van die aand
en hande warm vashou
as die skemer
om en in ons daal
tot in die donker nag.


EMOJI
deur F.C. Pelser

Gister was ek ’n vry denker; ’n emosionele ensiklopedie
en vandag is ek emosieloos —
’n ambivalente apie wat my afgestomp, selektief
doofstom en blind hou vir wat ek eens gevoel het.
Gister was ek ’n atlas vol aangesigte
en vandag is ek ’n apatiese anekdote
wat halfskuins rond rol en lag vir flou flikkerende grappies.
Gister was ek ’n arsenaal amoreuse uitdrukkings
wat nou emosioneelafwykend drie rye harte
vorm met my verlies aan vryewil en fantasie.
Voor vandag was ek ’n woordeboek wat
wonderlike wyshede woord-vir-woord kon weergee,
maar nou sit ek woordeloos en wonder
watter veelrassige, geslaglose gesigte die beste
beskrywer van my bui kan wees.
Gister was ek net ek,
maar vandag is ek (en jy en hy en sy)
tweedimensioneelgeel vasgevang
in handpalmhuisies met vensters wat vir
die wêreld wys wat woorde eens
driedimensioneelduidelik kon verklaar …

Related Articles

Back to top button