Local newsNews

Vreemde klein pasiënt steel diereliefhebbers se harte

Die Kranskop Dierekliniek in Modimolle het op Dinsdag 13 April ’n buitengewone pasiënt — ’n aardwolfwelpie genaamd Wolfie — vir ’n beseerde voorpoot behandel.

Die Pos het by dr. Marina Bredell, veearts, gaan kers opsteek oor aardwolwe (ook bekend as maanhaarjakkalse).

“Dit was my eerste kennismaking met ’n aardwolf en ook die eerste keer dat ek een behandel het,” het sy aan Die Pos gesê.

“Wolfie is sewe weke oud en weeg skaars 560 g. Hy is kort ná geboorte deur sy ma verwerp en word met die hand grootgemaak. Ons kon danksy X-strale vasstel dat daar nie ’n beenbreuk of -kraak is nie. Hy het net ’n ligament of spierbesering aan sy voorpoot opgedoen. Ek het pynmedikasie voorgeskryf en hy is dieselfde dag “huis toe” om aan te sterk,” het sy gesê.

Wolfie se mensma, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos vertel Wolfie kom as sy hom roep en loop heeldag agter haar aan — kompleet nes ’n klein hondjie.

Hy drink nog melkbottels — dieselfde poeiermelkformule soos vir babakatjies — en het nou begin met vaste kos (roereier).

“Wolfie het ’n liefdevolle geaardheid en laat ons lekker lag met sy manewales,” het sy gesê.

Hoewel die aardwolf die kleinste lid van die hiëna-familie is, vreet hulle selde rou vleis. Hulle verkies termiete of ander insekte.

Hulle lang, klewerige tonge, wat nie insekbyte voel nie, is ideaal om termiete te vang en een dier kan tot soveel as 200 000 termiete per aand vreet.

As nagdiere jag hulle meestal saans en kruip bedags weg in gate of ondergrondse tonnels.

Hulle is territoriaal en vorm monogame paringsgewoontes (’n mannetjie paar in sy leeftyd slegs met een wyfie).

Die mannetjie en wyfie versorg saam hul welpies vir die eerste jaar waarna hulle die ouers se gebied verlaat.

’n Volgroeide aardwolf weeg tussen 7-10 kg, soortgelyk aan ’n stewige Jack Russel-hond se gewig.

Related Articles

Back to top button