BlogsOpinion

Hoofartikel: Vollie se verse bring mooi herinneringe

“Jy kan nie skryf sonder liefde nie.”

Goeie gedigte, sê Vollie Volschenk van Thabazimbi, moet met passie en ’n liefde vir jou taal geskryf word.

Volschenk het die afgelope naweek, saam met honderde digters van regoor Suid-Afrika, die bekendstelling van die Genootskap vir die handhawing van Afrikaans (GHA) se nuwe Stemme uit die Suiderland-bundel bygewoon.

Hy het niks vermoedend die bekendstellingsgeleentheid saam met sy vrou, Rita, bygewoon, toe sy naam aangekondig word as naaswenner van vanjaar se GHA-digkompetisie.

Volschenk het vroeg in sy lewe reeds bewys dat hy ’n kranige skrywer is toe sy gedig Hoëveld in 1946 in die destydse Jongspan-tydskrif gepubliseer is. Hy was toe 14 jaar oud. Ondanks sy prestasies as skrywer, sukkel hy om homself ’n “digter” te noem.

“Digters is spesiale mense wat met woorde kan toor en stories kan vertel en ek dink nie ek is só nie,” sê hy beskeie.

In sy gedig Sê die wyse man skryf Volschenk, met verwysing na die Sjinese filosoof Lao Tzu: “Jou gees moet jou Self wees en nie jou Ego nie.” Dit is ook hoe hy sy lewe leef — met onvoorwaardelike liefde en respek vir dié rondom hom. As onderwyser by Laerskool Thabazimbi en later ook Hoërskool Frikkie Meyer het talle leerders hom leer ken as ’n regverdige en wyse man.


Sê die wyse man …

(met erkenning aan Lao Tzu)

Jou gees
moet soos water wees
wat vry en blink
om en oor klippe vloei
wat jou weg wil versper.
Jou gees
moet ferm en sterk wees
soos ‘n berg
standvastig in sy aard.
Jou gees moet vry wees
soos ‘n voël se vlug
hoog in die lug
op die krag van
die onsigbare wind.
Jou gees moet soepel wees
soos ‘n boom in die wind
wat steeds sy stand hou
en regop groei
en sy vrugte gee op sy tyd.
Jou gees
moet jou Self wees
en nie jou Ego nie.


Hierdie eienskappe kom ook duidelik na vore wanneer ’n mens deur sy gedigte lees. In sy gedig Sketse, die tweede gedig wat in die GHA-bloemlesing opgeneem is, beskryf hy die lewe as ’n gang waardeur ’n mens loop met verskeie prente wat jou lewe weerspieël en “tog moet ek telkens weer die gang afstap net om te weet wie ek werklik is”.

“’n Mens is net so oud soos jy jouself toelaat om te wees,” vertel hy. “In my kop is ek 30 al is my lyf dalk al 89 jaar oud.” Laai die PixzAR-toep af en luister hoe dié roerende gedig voorgelees word.

Related Articles

Back to top button