Local newsNews

Louw lei nuwe VF-Plus-tak

Die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) in Limpopo het onlangs ’n nuwe tak op Mookgophong gestig en Marita Louw is as voorsitter van die tak verkies.

Louw is ’n leerkrag by Hoërskool Hans Strijdom in die dorp waar sy self ook ’n leerder was. Sy het in 2016 in die plaaslike verkiesing as kandidaat vir die party gestaan.

Die ander lede wat in die takbestuur dien, is Louw Pretorius (ondervoorsitter), Carla du Toit (sekretaris), Roehan Schoeman en Carlo Vorster.

Louw het gesê sy en haar span sien daarna uit om die gemeenskap te dien en ’n wesenlike verskil te maak. Sy nooi inwoners van Mookgophong uit om haar te bel oor enige diensleweringsprobleme en ander munisipale sake.

“Dit is van uiterste belang dat kiesers besef dat die toekoms van plaaslike regering in ons hande is; veral gesien in die lig daarvan dat die meeste munisipaliteite van Suid-Afrika in totale chaos gedompel is.”

Dienslewering is ontoereikend, die infrastruktuur van dorpe het verval en ’n groot aantal munisipaliteite is in werklikheid bankrot, het sy gesê.

Die VF-Plus verwelkom Louw en haar span se toewyding en geesdrif om met die gemeenskap van Mookgophong hande te vat en die dorp weer te omskep in die aantreklike toerisme-bestemming wat dit eens was.

Sy het gesê dat dit gaan geen maklike taak wees nie, maar met die hulp van die gemeenskap is niks onmoontlik nie.

Related Articles

Back to top button