NewsSchools

Hoërskool Warmbad beskou video-debakel as afgehandel

Die groot ophef wat die EFF op Vrydag 19 Maart by Hoërskool Warmbad veroorsaak het nadat ’n video-opname van ’n voorval by die skool hulle ontstel het, het ’n stille dood gesterf.

Die skool is op sosiale media van rassisme beskuldig nadat ’n video van sowat vyf sekondes op sosiale media versprei is. Die video is na verneem word weke tevore deur ’n leerder geneem en hou volgens die skool verband met ’n voorval waar ’n leerder deur ’n personeellid gekonfronteer is oor dwelmmisbruik.

Die onderonsie is deur ’n ander leerder afgeneem en versprei. Die Pos het vroeër berig dat die skool ’n leerder van dwelmmisbruik verdink en hom versoek het om ’n dwelmtoets te ondergaan.

Die leerder het glo botweg geweier om aan die skool se dissiplinêre prosesse te voldoen wat gelei het tot die onderonsie tussen hom en sekere personeellede.

Die skool is op Vrydag 19 Maart ontruim nadat die EFF gedreig het om ’n protesoptog na die skool te organiseer en akademiese aktiwiteite te ontwrig.

Die polisie het die skool gemoniteer, maar die optog het nooit plaasgevind nie. Polisiebevelvoerders, ouers, lede van die skool se beheerliggaam, die EFF en partye wat insae wou bied het dieselfde dag in ’n afsonderlike vergadering ooreengekom dat alle ontevredenheid by ’n opvolgvergadering uit die weg geruim moet word.

Die verteenwoordigers op die vergadering het ooreenstemming bereik dat inligting onvolledig en in ’n verkeerde konteks op sosiale media versprei is.

Volgens ’n ingeligte bron het ’n ouervergadering op Dinsdag 23 Maart plaasgevind waarna ’n opvolgvergadering met die EFF en die skool se beheerliggaam belê is. Die EFF het egter nie betyds vir die vergadering opgedaag nie en het sedertdien nie weer met die skool in verbinding getree nie.

Die skool se beheerliggaam het op Maandag 29 Maart ’n verklaring uitgereik wat lui dat die plasing van die video verwarring veroorsaak het, dat die dissiplinêre optrede korrek hanteer is en dat die saak afgehandel is.

“Die departement van onderwys is deurlopend in die saak geken,” het die verklaring gelui. “Dit is ’n privaat aangeleentheid waar die betrokke partye nie net tevrede was met die uitkoms van die saak nie, maar ook tevrede was met die skool se hantering van die saak. Die skool bied steeds volgehoue ondersteuning aan die betrokke leerder(s). Die ouer van die betrokke leerder het daarop aangedring dat die vertroulikheid van hierdie saak eerbiedig word. Ons as skool ondersteun hierdie versoek,” het die woordvoerder gesê.

Paul Liddle, skoolhoof, het in reaksie gesê die waardigheid en regte van sy leerders en ouers sal altyd voorrang geniet, al moet dissiplinêre prosesse gevolg word.

“Die beheerliggaam het alle interaksie (in verband met die video) wat op sosiale media plaasgevind het, steeds in besit en sal, indien nodig, verdere regshulp inwin.”

Related Articles

Back to top button