Local newsNews

Só hou die Waterbergers basaar

Elke jaar wanneer die gemeentelede van die Afrikaanse Protestante Kerk in Thabazimbi bymekaarkom en basaar hou, kan ’n mens maar weet dit gaan ’n groot makietie wees.

Dié basaar was in die verlede altyd ’n groot hoogtepunt op die dorp se sosiale kalender, en vanjaar was daar bykomende vreugde omdat die Covid-19-regulasies nie weer ’n (ernstige) stokkie voor al die planne kon steek nie.

 

Ds. Roelf Smit van die AP-kerk Thabazimbi en ds. Neville Boy van die Gereformeerde Kerk Thabazimbi-gemeente kuier heerlik onder die groot koeltebome by die AP-kerk se basaar.

 

Die basaar het op Saterdag 27 Maart kort ná die opening om 08:00 afgeskop met vrolike musiek in die agtergrond, stalletjies en basaartafels wat kreun onder die keur van tuisgemaakte produkte, vleis teen weggeepryse en kinders wat baljaar onder die groot koeltebome.

 

Gemeentelede het heerlik saam gekuier en gesmul aan die bobaasgeregte wat te koop aangebied is.

 

Ds. Roelf Smit het sy dank uitgespreek teenoor almal wat ’n bydrae gelewer het en ook aan die inwoners van Thabazimbi wat hulle so getrou ondersteun.

 

Karlien de Villiers maak fluks haar pa se mandjie vol winskopie-vleisprodukte terwyl hy met ander gemeentelede gesels.

 

Hy het gesê vanjaar maak die gemeente — meer as ooit tevore — staat op gemeentelede se bydraes.

“Ons is ontsettend dankbaar vir almal se bydraes. Dit is moeilik om enigiemand uit te sonder, want selfs die kleinste gebaar maak die wêreld se verskil,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button