Local newsNews

Erfeniskenner se hulp ingeroep om begraafplaas te help red

Die Pos het verlede maand berig oor ’n skool in die Settlers-omgewing wat hulp gevra het om ’n geskiedkundige begraafplaas op die skoolterrein op te knap.

’n Erfeniskenner het intussen na vore getree en die skool besoek.

Die skoolhoof, wat verkies om anoniem te bly en nie die skool se naam in die media bekend te maak nie, het aan Die Pos gesê hy wil graag die kultuurerfenis laat voortleef en die grafte van geskiedkundige mense help beskerm.

Hy het gesê hy vrees dat politici die projek kan kelder omdat die bewaring van sulke historiese begraafplase nie gewoonlik deur die huidige politieke bestel belangrik geag word nie.

Deur sy eie ondersoek kon hy vasstel dat van die oorledenes bygedra het tot die vestiging van die skool en dat hulle in die laat 1800’s en 1930’s gesiene mense van die omgewing was.

Die begraafplaas is egter in ’n baie verwaarloosde toestand. Die name wat op die beskadigde grafstene gesien kan word, sluit in David Schalk van Dyk (1876-1918), Cornelia Sabastania Wilhelmina Fuchs (1876) en Albertus Johannes Luüs (1934-1936).

Quentin Meyer, direkteur van die Veg vir jou Afrikaanse geskiedenis-organisasie, is deur Die Pos genader om raad te gee. Hy is al tien jaar betrokke by opknappingsprojekte van verskeie kultuurpersele en begraafplase en het verskeie projekte in en om Bela-Bela gereël.

Hy is ook betrokke by die Federasie van Afrikaanse Taal en Kultuurverenigings (FAK). Meyer het die skool verlede week besoek.

“Ek het baie hartseer geraak toe ek die agteruitgang by dié geskiedkundige terrein gesien het. Die verlatenheid was tasbaar. Dit is jammer dat dié terrein vir vullisstorting gebruik word. Dit is toegegroei onder wilde gras,” het hy gesê.

“Ek verneem dat die grafte verbind word met mense wat in die omgewing gewoon het en die skool daar gestig het. Dit is opvallend hoeveel aalwyne daar voorkom. Dit was mode in daardie jare om aalwyne op grafte te plant. Daar bestaan dus ’n moontlikheid dat daar meer grafte is as dié wat sigbaar is,” het hy gesê.

Meyer het gesê sy organisasie is nie-polities en wil slegs die kultuurerfenis probeer beskerm.

“Dit is hartseer dat daar geen erkenning gegee word aan die mense wat die skool gestig het nie, want as ons dit nie gaan doen nie, sal hul nalatenskap, soos by talle ander plekke in die land, verlore gaan,” het hy gesê.

“Ons het hulp nodig. Mense, veral boere, skole of sakelui wat bereid is om te help om die begraafplaas weer in ere te herstel, kan my bel by tel. 082 304 8985.”

Related Articles

Back to top button