CrimeNews

Wag aangekeer (en weer vrygelaat) nadat 24 dromme olie verdwyn

Munisipale dienslewering in Bela-Bela is nóg ’n gevoelige slag toegedien toe 24 dromme met transformator-olie skynbaar tussen neus en ore verdwyn het.

Die munisipaliteit het pas groot uitgawes aangegaan om gewone- en hoëspanningstransformators te vervang nadat inwoners van die Roodepoort-, Noodhulp- en Bospoort-hoewes bykans twee weke lank sonder elektrisiteit moes klaarkom.

Volgens ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het die diefstal van die dromme olie vermoedelik tussen 18-22 Maart by die substasie in die dorp se nywerheidsgebied plaasgevind.

Die waarde van die dromme olie beloop ongeveer R216 000. Volgens die polisie is ’n veiligheidswag, wat in diens van die munisipaliteit is, in verband met die misdaad in hegtenis geneem.

Die aanklag van diefstal teen hom is egter teruggetrek voordat hy in die hof verskyn het omdat “die ondersoek nog nie afgehandel is nie”.

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag aan Die Pos gesê hy stel ondersoek in na die vermiste dromme olie én die bewerings van diefstal.

  • Inwoners van Bela-Bela het die afgelope ses maande behoorlik deurgeloop onder diefstal van hekmotors. ’n Man is op Woensdag 24 Maart in Bela-Bela in hegtenis geneem in verband met die vlaag diefstalle, maar die aanklag teen hom is ook intussen laat vaar.
  • Die diefstal van koperkabels en transformatoronderdele is ook ’n groot kopseer in Bela-Bela. Die polisie het op Donderdag 11 Maart vir Solomon Baloyi in hegtenis geneem nadat hy glo op heterdaad betrap is toe hy koperkabels van ’n transformator in die munisipale gebied gestroop het.

    Hy is aangekla van diefstal en kragtens die wysigingswet op strafregtelike sake (The Criminal Matters Amendment Act) word hy bykomend daarvan aangekla dat hy noodsaaklike infrastruktuur beskadig het. Baloyi het op Woensdag 17 Maart in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R500. Sy saak is vir verdere ondersoek uitgestel na Dinsdag 6 April.

Related Articles

Back to top button