BlogsOpinion

Hoofartikel: Van waar, Gehasi?

Al wat die regering eintlik reggekry het, was om Suid-Afrikaners van hul eie landgenote te vervreem en binnelandse reisigers te verwar.

Port Elizabeth se naam is deesdae Gqeberha.

Uitenhage heet voortaan Kariega, King William’s Town is Qonce, Berlin word Ntabozuko en Maclear word Nqanqarhu.

Die Port Elizabeth-lughawe se naam verander na die Chief Dawid Stuurman-lughawe en Oos-Londen se lughawe is nou die King Phalo-lughawe.

 

 

Inwoners, en veral sakelui van dié plekke in die Oos-Kaap, kla steen en been, maar Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, sê dit is in die Staatskoerant afgekondig en daarmee basta.

Hier ter plaatse het die einste Staatskoerant sowat 19 jaar gelede die doodsklok vir Warmbad, Nylstroom en Naboomspruit gelui.

So ampertjies was Vaalwater Mabatlane, maar dié een het om een of ander duistere rede nie gerealiseer nie. (ANC-amptenare het destyds volgehou Vaalwater ís nou Mabatlane, maar nadat Die Pos volgehou het dat ons wil síén waar dit in die Staatskoerant staan voordat ons dit in ons berigte verander, het die versoeke opgedroog). Vaalwater het Vaalwater gebly.

Die ander drie groot dorpe in ons lesersgebied het amptelik en met groot fanfare Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong geword. En al wat die regering eintlik daarmee reggekry het, was om Suid-Afrikaners van hul eie landgenote te vervreem en binnelandse reisigers te verwar.

Probeer gerus vir mense in Gauteng (om nie eens van die Wes-Kaap te praat nie) te vertel waar jy woon.

Nie eens die regering weet wat die verskil tussen Mokopane (die ou Potgietersrus), Modimolle (die ou Nylstroom) en Mokgalakwena (Mokopane se munisipaliteit) is nie.

Die arme inwoners van Modimolle (die ou Nylstroom) en Mookophong (die ou Naboomspruit) het amper van hul stoele afgeval toe die regering aan die begin van die jaar aangekondig het dat hul Covid-19-gevalle drasties toegeneem het. Foutjie, blyk dit toe weke later, hulle bedoel eintlik Mokgalakwena (dus Mokopane).

Weet jy waar op die kaart Gqeberha, Kariega, Qonce, Ntabozuko en Nqanqarhu is? Wil jy graag daar gaan vakansie hou en geld bestee omdat jy al gehoor of gelees het van hul mooi strande, natuurreservate, warmbronne, jagplase of ander besienswaardighede?

Toemaar, mense van ander provinsies weet ook nie — bykans twee dekades later — wat die verskil tussen Mokopane, Mabopane, Mookgophong, Modimolle of Mokgalakwena is nie. En regeringsamptenare ook nie.

Glo maar die koerant. Ons kry bykans weekliks oproepe van mense (in hogere posisies nogal) wat uitvra oor ons verspreidingsarea en die kat aan die stert (of die kaart onderstebo) beet het.

Suid-Afrikaners van ander provinsies het nie ’n benul waar Limpopo se nuwe (ou) dorpsname op ’n landkaart geleë is nie.

Maar — heel ironies — hulle weet steeds waar Warmbad, Nylstroom en Naboomspruit is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button