Local newsNews

Fraai klein ‘boekklub’ verbly inwoners van Mookgophong

Die boekwurms van Gholfpark in Mookgophong het tydens die grendeltydperk in 2020 ’n groot behoefte gehad om by ’n biblioteek uit te kom.

Johan en Suzette Kriel-Jooste, twee vindingryke inwoners, het die nood raakgesien en besluit om ’n boekklub op die been te bring.

Hulle wil dit graag vir ouer inwoners moontlik maak om goeie boeke in die hande te kry.

“Ons het eintlik die idee gekry nadat ons ’n soortgelyke biblioteek in Stilbaai gesien het,” het Suzette aan Die Pos vertel.

Sy en Johan is baie ingenome om te sien dat hulle boekklub reeds groot aftrek kry. Antoinette Wagener, voorsitter van Gholfpark se bestuur, was net so opgewonde en het gesê lesers het nou die geleentheid om te stap om boeke te ruil.

Die Boekklub se “huisie” is by die ingang van die Gholfpark-aftreeoord en is só gewild dat daar nou beplan word om dit te vergroot. Wagener was aanvanklik skepties oor die idee en het gedink dit sal soos ’n “boekrak” lyk wat teen die veiligheidskamertjie se muur aangebring is.

Tot haar groot verbasing het Johan op eie koste ’n pragtige huisie uit afvalmateriaal gebou.

“Ek het een oggend van die winkel af gekom en byna my motor omgegooi toe ek die huisie sien. Ek noem dit sommer Gholfpark se biblioteek op steroïdes,” het Wagener laggend gesê.

Die Boekklub het binne ’n jaar só gewild geword dat daar somtyds nie genoeg boeke is nie. Lesers neem boeke sonder om dit aan te teken.

“Ons maak staat op die integriteit van die lesers. Soms bring iemand sommer nog boeke saam as die boek teruggebring word,” het sy gesê.

Daar is ’n verskeidenheid historiese boeke wat baie gewild is. Iemand het self een dag videokassette gebring en een lesers het drie pakkies groentesaad daar gelaat.

’n Ander persoon het dit geneem om te gaan plant. Wagener sê sy het self ’n boek daar raakgeloop waarna sy al etlike jare soek.

“Ons sal hopelik in die toekoms nog ’n groter boekklub-huisie hê,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button