NewsSchools

‘Rock your socks’ vir Down-sindroom

Die Wêreld Downsindroombewusmakingsdag word jaarliks op 21 Maart gehou.

Leerders van verskeie skole in Mookgophong het hieraan deelgeneem.

“Ons het die dag vanjaar op Vrydag 19 Maart herdenk,” het Marise Botes, wat die leiding geneem het, gesê.

Botes het ’n dogtertjie, Danika(12), wat aan Downsindroom lei en is nou betrokke by die Downsindroom-vereniging van Suid-Afrika.

Marise het gesê sy en haar man, Quinton Botes, wil graag mense motiveer om meer betrokke te raak en meer te wete te kom van Wêreld Downsindroomdag.

Leerders het R20 betaal en kon verskillende kleure en onpaar sokkies dra.

Volgens die Wêreld Downsindroom-vereniging wat reeds sedert 2012 deur die Verenigde Nasies (VN) ondersteun word, is die helderkleurige sokkies simbolies omdat mense met Downsindroom ’n unieke 21ste chromosoom het.

Botes het gesê die geld wat ingesamel is, word direk aan die vereniging betaal. Hierdie geld word gebruik om kinders met die sindroom te help deur terapie, werkopleiding en mediese koste vir lede wat dit nie kan bekostig nie.

Die organisasie streef daarna om mense met Down-sindroom meer inklusief in die arbeidsmark te maak.

“Ons het ongelooflike ondersteuning van die gemeenskap ontvang. Ons is so dankbaar dat mense bereid is om betrokke te raak en te help met bewusmaking. Ons is oorweldig deur die ruim bydraes en die groot aantal mense wat deelgeneem het aan die bewusmakingsveldtog. Ek bedank die sakeondernemings en skole wat deelgeneem het,” het Marise gesê.

Chané Verwy, een van die onderwysers by Hoërskool Hans Strijdom in die dorp, het die leiding geneem en leerders kon vir die hele week hul onpaar gekleurde sokkies dra en boonop nog ’n heerlike kolwyntjie kry.

Sy het aan Die Pos gesê die leerders het geesdriftig deelgeneem en byna 200 plakkers is verkoop vir hierdie goeie doel.

Related Articles

Back to top button