Local newsNews

Die gesig van armoede

Oral in en om Thabazimbi sien ’n mens deesdae rylopers wat hoopvol hul duime in die lug hou, honger mense en haweloses.

’n Mens kyk so maklik verby die bedelaars en straatsmouse en vergeet van bejaardes wat daagliks sukkel om met ’n skraal pensioen kop bo water te hou.

Dit is maklik om armoede te ignoreer, maar dit is moeilik om dit mis te kyk. Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA) se jongste bevindinge neem armoede daagliks in Suid-Afrika toe weens die land se swak ekonomiese groei en hoë werkloosheidsyfer.

Die uitbreek van die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperkingsregulasies was vir baie mense die laaste strooi.

The Loving Hands (TLH) het vyf jaar gelede die nood in die dorp raakgesien en besluit om iets daaraan te doen. Of dit nou kospakkies is wat tydelik verligting bring of werkskepping wat oor ’n langer tydperk die nood verlig, vir TLH is dit belangrik dat die klem op menslikheid gelê word.

“Mense sien nie meer ander se nood raak nie,” verduidelik THL se Beverley Spira Kühn. “Ons het mense begin help om werk te soek en gou agtergekom die eintlike probleem is verblyf.”

Die hartseer waarheid van die lewe op straat is dat baie haweloses nie net blootgestel is aan die elemente nie, maar ook maklik verval in dwelm- en drankmisbruik om te ontsnap uit hul omstandighede. Volgens Kühn is dit juis om dié rede dat TLH besluit het om meer te doen as blote donasies.

“Dit is vir ons belangrik dat mens nie net die simptome van armoede behandel nie, maar die probleem te help uitroei en al hoe jy dit kan doen, is om die armes uit hul omstandighede op te hef.”

TLH vat dikwels hande met verskeie organisasies in die omgewing en het ook nou begin saamwerk met boere in die omgewing sodat die mense opgehef kan word deur vaardigheidsontwikkeling op plase.

TLH het ook onlangs ’n projek aangepak om ’n nuwe liefdadigheidsorganisasie te stig met een doel voor oë: goedkoper verblyf vir dié wat dit andersins nie kan bekostig nie.

Die Thabazimbi Homeless Shelter (een van TLH se projekte) is gemik daarop om tydelike verblyf aan haweloses te verskaf. Die skuiling is nie ’n plek waar mense leeglê nie, maar is gefokus daarop om vir dié mense ’n nuwe, eerbare bestaan te verseker.

“Ons help mense wat gehelp wil word,” verduidelik Kühn. “Wanneer mense by die skuiling opdaag, word hulle dadelik getoets vir dwelms en drankmisbruik voordat hulle toegang tot die gebou verkry.” Dit is moeilik om “oor te begin”, maar as mense saamstaan en die regte ondersteuningsbasis het, gee dit ander die potensiaal om enigiets te bereik, het sy gesê.

Die Thabazimbi Homeless Shelter het inwoners van Thabazimbi se hulp nodig.

Om meer uit te vind oor hoe om betrokke te raak, bel vir Beverley Spira Kühn by tel. 078 403 1813.

Related Articles

Back to top button