MunicipalNews

Inwoners herstel een slaggat op ’n slag

Die inwoners van Modimolle wat betrokke is by die slaggatprojek in die dorp het sedert die begin van Maart gewoeker en 100 sakke (25 kg elk) teermengsel ingesamel wat op Woensdag 17 Maart gebruik is om die eerste slaggate op die hoek van Kerk- en Boshoffstraat te herstel.

Lede van die gemeenskap en ’n span werkers van die plaaslike munisipaliteit se departement van paaie en stormwater het vroegoggend by die hoek van Kerk- en Boshoffstraat opgedaag vir ’n kort demonstrasie oor hoe om slaggate te herstel.

Louis Masiza, verteenwoordiger van Super Patch, die maatskappy wat die teermengsel vervaardig, het die demonstrasie en opleiding behartig.

Volgens Masiza moet die voorbereiding van die gat deeglik gedoen word om te verseker dat die slaggat nie gou weer insink nie of dat nuwe teer nie wegtrek van die bestaande teer nie. Masiza het verduidelik:

“Nadat die slaggat opgevul is met G5-aggregaat, moet dit baie goed vasgestamp word met ’n hand- of elektriese stamper. Die gat word met die teermengsel van die kante af gevul en laaste in die middel. Die teermengsel word gelyk gemaak met ’n asfalthark tot ongeveer 30 mm hoër as die bestaande padoppervlak. Daarna word dit deeglik vasgestamp met ’n plaatkompakteerder totdat dit ongeveer 10 mm hoër is as die bestaande padoppervlak, want gedurende die volgende maand sal dit nog verder gekompakteer word wanneer voertuie daaroor ry. Alle los stukkies teer en klippies word weggevee sodat die pad weer oopgestel kan word vir normale verkeer.”

Ongeveer drie tot vier sakke (25 kg elk) teermengsel word gebruik om een vierkante meter slaggat te vul met ’n laag van ongeveer 30-35 mm dik.

Die munisipaliteit se span werkers was onder leiding van Oupa Shiburi, ’n ambagsman wat die afgelope 20 jaar by die departement van paaie en stormwater betrokke is.

Hy het aan Die Pos gesê die opleiding vir hierdie spesifieke koue teermengsel was baie insiggewend.

Volgens Shiburi beplan die munisipaliteit om teen einde Maart die slaggate in Kerkstraat te herstel, indien daar genoeg warm sonskyndae is, want anders kan die koue teermengsel nie aangewend word nie.

Die Pos het met Sarie van den Berg, medestigter van die Adopt-a-pothole-projek in Modimolle, gesels.

“My hart loop oor van blydskap en dankbaarheid oor al die inwoners wat teermengsels geskenk en op verskillende maniere betrokke geraak het by die projek. Daar is mense wie se bydraes van onskatbare waarde is waarsonder hierdie projek nie suksesvol sou wees nie. Selfs twee vroue wat Sassa-toelaes kry, het elkeen een sak teermengsel geskenk,” het sy vertel.

“Ek en my man, Adolf, hoop hierdie inisiatief sal ander inwoners motiveer om ook die strate voor hul huise en sakeondernemings te herstel,” het sy gesê.

Die Pos het verneem dat Waterberg Toyota, motorhandelaar van Modimolle, ingestem het om teer ter waarde van R5 000 te skenk. Verdere detail is nog nie beskikbaar nie.

Die Pos het ook met Paul Daniec, wat ook betrokke is by die slaggatprojek, gesels. Daniec woon in ’n gholflandgoed in Modimolle, maar is oorspronklik van San Antonio in Texas (VSA) waar hy ’n eiendomsontwikkeling en konstruksieonderneming besit.

“My onderneming spesialiseer daarin om strate, water- en riooltoevoer, asook stormwaterslote in nuwe stedelike ontwikkelings te bou. Ek gebruik my jarelange ondervinding om hier van hulp te wees,” het hy gesê.

Daniec is die eienaar van Waterberg-motorsport, ’n motorfiets- en vierwielmotorfietshandelaar in Modimolle, asook verskeie gastehuise in die omgewing.

Inwoners wat wil betrokke raak by die slaggatprojek kan vir Sarie van den Berg bel by tel. 082 882 2131 of vir Melanie Jansen van Vuuren by tel. 060 853 7890.

Die tweede datum vir die herstel van slaggate in Kerkstraat word beplan vir Maandag 29 Maart.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button