MunicipalNews

AfriForum is baie ‘opportunisties’, sê burgemeester

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het die afgelope week bloedneus gekry toe hulle ingevolge ’n hofbevel 10 dae tyd gegun is om die watertoevoer in Mookgopong ten volle te herstel.

Indien hulle versuim om dit te doen, kan die hof bepaal dat ’n privaat diensverskaffer aangestel word om die infrastruktuur verder te bestuur.

Marlene van Staden, Modimolle-Mookgo-pong-burgemeester, het in reaksie teruggekap en gesê die burgerregte-organisasie het opportunisties opgetree.

“Hulle is bewus daarvan dat ons reeds 80% van die opgraderingswerk afgehandel het. Dit is die rede waarom ons nie die hofuitspraak teengestaan het nie,” het sy gesê.

Van Staden het gesê die munisipaliteit was nog altyd eerlik oor die feit dat die volhoubare voorsiening van water een van hul grootste uitdagings is. Sy het dit toegeskryf aan finansiële druk, infrastruktuur wat oor jare afgeskeep is, ’n gebrek aan vaardighede en die voortslepende droogte.

“Die munisipaliteit neem kennis van die uitspraak rakende die voorsiening van water aan Mookgophong, Roedtan en Thusang. Dit is jammer dat die applikante nie eers met die munisipaliteit in gesprek getree het oor die status van die waterprojekte nie,” het sy gesê.

Sy het ’n lys met projekte beskikbaar gestel waaraan die munisipaliteit reeds aandag geskenk het.

Nylrivier-boorgate:
Daar is altesame 15 uit die 21 boorgate in die Nyl wat lewensvatbaar is. Die res is besoedel of te naby aan mekaar gesink. Die 15 lewensvatbare boorgate sluit die twee boorgate in wat in September 2020 gesink is.

“Uit die 15 lewensvatbare boorgate is vier tans buite werking, maar ’n kontrakteur sal die nuutste boorgat voor einde Maart toerus. Twee ander word tans herstel en die vierde een word tans deur ’n plaaslike kontrakteur geïnstalleer.”

Die nuwe pomp by die Welgevonden-dam:
Die munisipaliteit het ’n 30 kW motor en pomp vir die Welgevonden-pompstasie gekoop om te verseker dat genoeg rou water vanaf die dam na die Mookgophong-watersuiweringswerke gepomp word, het sy gesê. Dit sal na verwagting voor Dinsdag 30 Maart geïnstalleer word.

Nuwe pyplyn by die Welgevonden-dam:
“Die munisipaliteit is tans besig om ’n 3 km-pyplyn (250 mm PVC-pyplyn) vanaf die Welgevonden-dam (Frikkie Geyser-dam) tot by die waterreservoir te bou wat die bestaande pyplyn (160 mm-pyp) sal vervang.” Dit sal na verwagting voor einde Maart voltooi wees.

Materiaal:
“Die munisipaliteit verkry tans materiaal vir waterherstelwerk vanaf ’n plaaslike verskaffer. Dit beteken dat daar baie gouer aan waterprobleme aandag geskenk kan word.”

Noodopwekkers:
Die installering van noodopwekkers vir die boorgatpompe word voorop gestel in die 2021/2022-boekjaar en die sakeplan is reeds aan die departement van water en sanitasie voorgelê, het Van Staden gesê. “Die noodopwekkers sal die munisipaliteit in staat stel om steeds water te pomp wanneer daar kragonderbrekings is.”

Waterplanne:
Die munisipaliteit beplan om ’n nuwe waterdiensteontwikkelings- en meesterplan in 2021/2022 te ontwikkel. “Die bestaande plan is verouderd en is nooit in ag geneem toe die vorige twee munisipaliteite in 2016 saamgesmelt het nie,” het sy gesê. Volgens haar het die munisipaliteit ’n nuwe 15 000 liter watertrok gekoop wat permanent in Mookgophong staan.

“’n Fout in die munisipale stelsel het veroorsaak dat die hofaansoek nooit teengestaan is nie. Die munisipale bestuurder stel tans ondersoek daaroor in. Ek hoop egter dit is vir inwoners duidelik dat ons besig is om die infrastruktuur op te gradeer sodat ons ’n meer stabiele en volhoubare waterdiens aan alle inwoners kan lewer.”

Sy het onderneem om nuwe verwikkelinge onder inwoners se aandag te bring.

Van Staden het die volgende lys uitgereik van opgradering- en instandhoudingswerk wat volgens haar reeds voltooi is:

  • Die nuwe suiweringswerke.
  • Die legging van die nuwe pyplyn vanaf boorgate.
  • Agt nuwe boorgate is gesink waarvan vier toegerus is.
  • Die pompstasie by die boorgate is opgegradeer.
  • Die boorgate-reservoir is herstel.
  • Die pompstasies is toegebou.
  • Die nuwe verspreidingspyplyn en sekondêre pyplyn in die dorp is voltooi.
  • Drukkleppe en nuwe krane is op die pyplyne geïnstalleer.
  • Die nuwe pyplyn vanaf die waterreservior is voltooi.
  • Die chloorgasaanleg is in werking.
  • Daar word onderhandel vir bykomende water van die Tinmyn-dam.
  • Dam-rehabilitasie (skoonmaak) het plaasgevind.

Related Articles

Back to top button