Local newsNews

Covid-19: Een jaar later: ‘Saamstaan’ is die wagwoord, sê Bela-Bela-sakeman

Dit is hierdie week presies ’n jaar nadat die nasionale Covid-19-grendelstaat op 26 Maart 2020 in werking getree het.

Die land het oornag in ’n estopiese wêreld verander waarin vlak 5-inperkings bepaal het dat mense slegs hul woonplekke mag verlaat om kos te koop of vir mediese noodgevalle.

“Dit was soos om skielik uit ’n droom wakker te skrik. Niemand het ’n idee gehad watter invloed die inperking op die sakegemeenskap sou hê nie,” onthou Marnus Luüs, sentrumbestuurder van die Bosveld Mall, oor dié tydperk.

Sakeondernemings wat as noodsaaklik bestempel is, kon hul deure oophou. Winkelbestuurders het feitlik oornag hul werkwyse verander. Personeel het inderhaas opleiding ontvang om aan al die streng voorsorgmaatreëls te voldoen.

Kliënte moes ook gou aanpas by die voorsorgmaatreëls wanneer hul inkopies gedoen het om kosvoorrade aan te vul. Talle winkels is egter gedwing om gedurende vlak 5 hul deure te sluit en moes maande lank wag totdat die regering die verslapping op die inperkings aangekondig het. Slegs noodsaaklike dienstepersoneel is toegelaat om te werk.

“Die alleenmansake het veral swaargetrek, want hulle het nie die buffer van ’n nasionale groothandelsnaam nie en met die opskorting van hul sakebedrywighede het hulle geen inkomste gehad nie, maar was steeds verantwoordelik vir die oorhoofse koste van hul sakepersele” het Luüs gesê.

Geloof het in dié tyd vir hom ’n groot rol gespeel. Hy het onwrikbaar geglo dat Suid-Afrikaners die Covid-19-pandemie ernstig sal opneem en hul optrede daarvolgens sou aanpas sodat die sterftesyfer nie die hoogte inskiet nie.

As sentrumbestuurder het hy in daardie eerste paar weke baie vreemde gedrag beleef. Mense het oorhaastig aankope gedoen en paniekbevange groot hoeveelhede produkte gekoop.

Dit het die winkeliers gekniehalter, want voorraadaflewering was beperk omdat die provinsiale grense gesluit was. Later het die paniekerige gedrag afgeneem en toe was dit vir hom opvallend dat kliënte hul geld baie wys begin bestee het. Inkomstes was minder en daarom het mense net die nodige produkte aangeskaf, het Luüs gesê.

“Al het baie mense se ekonomiese situasie intussen tot ’n mate herstel, dink mense deesdae twee keer voordat hulle luukse produkte koop. Hulle verkies om eerder die koskaste met gehalte produkte as met groot hoeveelhede produkte te vul.”

Volgens Luüs dink hy mense het, ten spyte van die finansiële uitdagings wat oor broodwinners se koppe gehang het, weer hul gesinsbande versterk, want hulle was nood- gedwonge op mekaar aangewese en moes baie tyd saam deurbring.

Familie en vriende wat nie besoek kon word nie, is met video-oproepe en daaglikse boodskappe gekontak. Sosiale media het dié gaping gevul en is gebruik as kommunikasie met die res van die wêreld.

“Ek het ook besef hoe afhanklik ons eintlik van ons naastes is. Die lewe draai nie net om inkomste en werk nie.”

Vir baie mense was die afgelope jaar ’n oorlewingstryd. “Almal was in dieselfde bootjie.” Dit is ook vir hom opvallend hoe baie liefdadigheid daar in dié tyd was.

“Nie-winsgewende organisasies kon nie hul gewone fondsinsamelingsprojekte aanbied nie, maar het met innoverende maniere vorendag gekom om verligting aan ander te bring.”

“Daar was in die verlede elke naweek iets om te doen in Bela-Bela — sirkus, skoue, kerkgeleenthede, landbouskoue en skyfskiet — maar toe verhuis mense, sterftes vind plaas, vervreemding tree in en Covid-19 vereis dat ons in isolasie gaan. Die jaar 2020 het ons weer geleer om as sakegemeenskap ’n verskil te maak,” het hy gesê.

“Daar is steeds ’n groot behoefte. Inwoners se menswaardigheid moet weer herstel word en ons moet almal ons koppe oplig en bydra tot die herstel van die breë gemeenskap.”

“Saamstaan is die wagwoord vir die Bela-Bela-gemeenskap.”

  • Laai die PixzAR-toep op jou selfoon af om te kyk na dié video in die gedrukte uitgawe van Die Pos, wat ons op 30 Maart verlede jaar in die verlate strate van Bela-Bela geneem het.

Related Articles

Back to top button