MunicipalNews

‘Ons betoog nie, ons weerhou net dienste’

Luidens ’n munisipale verklaring, beskik die munisipaliteit nie oor die geld om aan die werkers se eise te voldoen nie.

“Ons betoog glad nie. Al wat ons tans doen, is om dienste te weerhou totdat daar aan ons eise voldoen word.”

Dit was Elliot Molala, plaaslike Samwu-woordvoerder, se ietwat ondubbelsinnige verduideliking aan Die Pos oor ’n protesoptog deur munisipale vakbondlede wat Bela-Bela vandeesweek soos ’n vullishoop laat lyk het.

 

Lede van die Suid-Afrikaanse munisipale werkersvakbond (Samwu) het Bela-Bela se strate met rommel bestrooi en versperrings in die strate gegooi. Op die foto verwyder inwoners die versperrings in Van der Merwestraat.

 

Munisipale vakbondlede het die dorp ingevaar en vullissakke rondgestrooi, klippe in die paaie gepak en die munisipale kantoor vol water uit ’n brandslang en vullis gelaat.

Alle dienste in die dorp is verlede Vrydag (12 Maart) opgeskort. Die munisipaliteit het daarna ’n aankondiging op hul Facebook-blad geplaas dat geen nooddienste die naweek beskikbaar sal wees nie. Nooddienswerkers het egter na verneem word wel op Maandag 15 Maart aangemeld vir diens.

Die betogers se protesoptog spruit uit beloftes wat glo aan werkers gemaak is dat hulle bykomende betaling sal ontvang vir “volgehoue werk” tydens die Covid-19-pandemie-tydperk.

 

Bela-Bela se munisipale gebou het behoorlik deurgeloop onder betogende munisipale vakbondlede. Hulle het die hele grondvloer, asook die kliëntedienssentrum, met vullis bestrooi. Selfs ’n brandkraan is oopgedraai. Teen druktyd het die werkers opgeblaasde kondome, wat by die munisipaliteit beskikbaar was, voor die munisipale gebou uitgegooi. Foto: Herman Steyn

 

Teen druktyd vandeesweek was sekere munisipale dienste steeds opgeskort. Molala het in ’n onderhoud met Die Pos gesê ’n plaaslike arbeidforum is in 2020 tot stand gebring om munisipale werkers se belange tydens die Covid-19-pandemie op die hart te dra.

Werkers wat die risiko geloop het om aan die virus blootgestel te word tydens die uitvoer hul pligte, behoort vergoeding te ontvang, het hy gesê.

“Daar het 30 van ons lede tydens die pandemie siek geword en van hulle het gesterf. Ons het reeds in Augustus 2020 met ’n groep raadslede en die munisipale bestuur ’n ooreenkoms gesluit om die bykomende toelae te betaal,” het Molala gesê.

“Ons is nie van plan om ons optrede vinnig te staak nie en rig ’n versoek tot die nasionale spesiale ondersoekeenheid om uit te vind waarheen die geld wat aan ons betaal moes word, verdwyn het.”

Luidens ’n munisipale verklaring wat op Saterdag 13 Maart uitgereik is, beskik die munisipaliteit nie oor die geld om aan die werkers se eise te voldoen nie.

“Die uitbetaling van Covid-19-toelaes het nie gerealiseer nie weens die swak invordering van skuld en omdat belastingbetalers self hard getref is deur die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die land se ekonomie,” lui die verklaring.

Volgens die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsassosiasie (Salga) word die beginsel van bykomende toelaes goedgekeur indien ’n munisipaliteit finansieel daartoe instaat is.

Die nasionale tesourie het intussen aangedui dat daar vereistes is vir alle Covid-19-uitbetalings waaraan munisipaliteite moet voldoen, maar die Bela-Bela-munisipaliteit voldoen luidens hul verklaring nie aan hierdie voorwaardes nie.

Kabelo Mosito, munisipale woord- voerder, het in reaksie gesê die protesoptrede het ’n effek op alle dienslewering gehad en die munisipaliteit het tans minder beskikbare personeellede as normaalweg.

“Sover ons kan vasstel is die optog onwettig en die munisipale arbeidsbeleid moet uitgevoer word. Die werkers wat aan die protesoptrede deelneem, loop die gevaar om skriftelike waarskuwings te ontvang of afgedank te word,” het Mosito gesê.

Mosito het gesê inwoners kan steeds die kliëntedienssentrum skakel vir klagtes of om probleme aan te meld.

Hy het gesê inwoners kan hom ook direk bel by tel. 066 301 4806.

Die protesoptrede was teen druktyd nog nie afgelas nie.

Related Articles

Back to top button