NewsSchools

Warrie-sanger wil sy stem in Amerika laat hoor

Michal Rossouw, ’n gr.12-leerder van Hoërskool Warmbad, het groot drome om naam in die uitvoerende kunste te maak.

Dit is waarom hy en sy gesin nou ’n groot poging aanwend om genoeg geld in te samel sodat Michal in Julie in Amerika aan ’n groot kompetisie kan deelneem.

Michal is tydens verlede jaar se Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste as een van die wenners gekies om aan vanjaar se wêreldkunstekampioenskap in Nashville, Tennessee, deel te neem.

“Dit was nog altyd my droom om op ’n internasionale verhoog mee te ding en my talent aan die wêreld te wys. Ek hou van sang, drama, kuns en stories skryf,” het hy aan Die Pos gesê. “Ek kan hopelik ander jongmense tot groter drome aanmoedig.”

Die geleentheid om op ’n wêreldverhoog op te tree, hou ook ander voordele in: Studiebeurse vir belowende studente en deelnemers om hul musiekstudies in die buiteland te voltooi.

Michal en sy gesin beraam reeds die afgelope jaar planne om oral ’n geldjie bymekaar te maak om die duur vliegtuigkaartjie en verblyfkoste te dek.

“Ons fondsinsamelingsprojekte het tydens die Covid-19-tydperk feitlik tot ’n stilstand gekom omdat sosiale byeenkomste opgeskort is. Dit het ons gedwing om alternatiewe planne te maak. Ek is baie dankbaar teenoor my ouers, Jackie en Jaco, wat alles in hul vermoë doen om my droom gestalte te laat kry.”

Rouel Beukes, legendariese kunstenaar wat in Bela-Bela woon, het intussen aangebied om Michal met die fondsinsameling te help. Beukes was ’n beoordelaar tydens die ATKV-kunstefees waar Michal opgetree het.

Hy het die seun se talent raakgesien en betrokke geraak by die fondsinsameling. Michal sê dit is ’n groot eer dat ’n ikoniese figuur soos Rouel Beukes hom ondersteun.

’n Gala-aand is gereël vir Vrydag 26 Maart by die Warmbad-rolbalklub in Bela-Bela.

Ander plaaslike kunstenaars van Encore Studio — Istvan Dippenaar, Isabel Schoeman en Jayde Humphries — tree die aand saam met Michal en Beukes op.

Inwoners wat smag daarna om weer kunsuitvoerings by te woon, kan gerus die aand saam kuier. Daar sal heerlike eetgoed wees.

Vir navrae bel vir Jackie bel by tel. 072 901 5499, Jaco by tel. 082 650 6522 of vir Hettie Rossouw by tel. 072 479 2595.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button