Local newsNews

Gru-ongeluk op N1 eis sewe lewens

Sewe mense, waaronder ’n minderjarige meisie, is op Vrydag 5 Maart omstreeks 21:30 in ’n gru-ongeluk op die N1-snelweg tussen Middelfontein en Kranskop dood.

Nog een persoon is ernstig beseer tydens die botsing waarin drie voertuie en ’n sleepwa betrokke was.

Luidens ’n mediaverklaring deur die departement van vervoer het die bestuurder van ’n blou Isuzu-bakkie met ’n sleepwa vermoedelik beheer verloor en reg van voor met ’n silwer Renault-sedan gebots.

Die vier insittendes van die Renault, waaronder die vroulike bestuurder, twee mans en ’n minderjarige meisie van ongeveer vyf jaar, is op slag dood.

Die bestuurder van die bakkie, asook die voorste passasier, is baie ernstig beseer en na die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle geneem waar die bestuurder kort daarna aan sy beserings beswyk het.

Die ander twee manlike passasiers in die bakkie is op die toneel dood verklaar.

Die derde voertuig, ’n blou Hyandai-sedan, het met die bakkie se sleepwa gebots, maar al vyf insittendes is ongedeerd.

Nooddienspersoneel het gesukkel om die bakkie en Renault, wat ineengestrengel was, uitmekaar te breek sodat die ongelukstoneel opgeruim en die N1-snelweg heropen kon word.

  • Skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos deur die PixzAR-toep af te laai op jou slimfoon.

Related Articles

Back to top button