Local newsNews

Hande in die hare oor geboortesertifikate

Die foutiewe jaartal op ’n jong seun se geboortesertifikaat het nou verreikende gevolge omdat dit verhoed dat hy vanjaar kan inskryf vir gr. 1.

Ingevolge die toelatingsvereistes van die departement van onderwys moet ouers ’n afskrif van voornemende leerders se geboortesertifikate indien om te registreer by enige skool.

Die jong seun se ma en ouma, wat anoniem wil bly, het uit radeloosheid by Die Pos aangeklop vir hulp nadat hulle al bykans twee jaar sukkel om ’n nuwe geboortesertifikaat by die plaaslike departement van binnelandse sake te kry.

“My kleinseun se geboortejaar is verkeerdelik op sy geboortesertifikaat as 2012 aangedui, maar in werklikheid is hy in 2013 gebore,” het die ouma aan Die Pos vertel.

“Ons het op 10 Junie 2019 die nodige dokumentasie by die departement in Modimolle voltooi vir die wysiging daarvan. Ons het ook ’n skermgreep van die departement se rekenaarstelsel wat wys dat Modimolle die wysiging ingelees het en op 10 Junie 2019 elektronies na hul hoofkantoor in Waltloo, Pretoria, gestuur het. Dit is nou 21 maande later en ons wag steeds op die korrekte geboortesertifikaat.”

Die Pos het hierdie navraag gerig aan Nomvuyo Mqotyana, takbestuurder van die departement van binnelandse sake in Modimolle.

Die Pos het die navraag vir ’n week lank bykans daagliks met die takbestuurder opgevolg, maar dit het duidelik geword dat die dokumentasie klaarblyklik nooit by die departement se hoofkantoor in Waltloo ontvang en geprosesseer is nie.

Volgens Mqotyana word aansoeke vir wysiging slegs by hul hoofkantoor gedoen.

“Alle aansoeke word eers elektronies ingedien op die stelsel waarna die oorspronklike vorms aan die hoofkantoor in Pretoria gestuur word om verwerk te word. Sodra die wysigings op die stelsel afgehandel is, kan die Modimolle-kantoor die nuwe geboortesertifikaat uitreik,” het Mqotyana gesê.

Die Pos het op Dinsdag 9 Maart verneem dat die Ouma wéér die oorspronklike dokumentasie vir Mqotyana geneem het sodat dit dringend na die departement se hoofkantoor gestuur kan word vir verwerking.

  • Die Pos word oorval met klagtes van ouers wat sukkel om vir hul 16-jarige kinders ID-kaarte te bekom. Verskonings wissel van rekenaars wat “aflyn” is, vorige aansoeke wat maande lank “pending” bly en daarom nie geprosesseer kan word nie of mobiele eenhede wat nie werk nie omdat die kragopwekkers nie werk nie.

Related Articles

Back to top button