LettersOpinion

Brief: Uit ’n baie dankbare ‘ou’ hart

Almal het altyd my beste belange op die hart gedra en my met deernis versorg.

Alida Strydom, Bela-Bela, skryf:

Ek het op Vrydag 12 Februarie in my kamer by die Warmbad Rusoord se tehuis vir bejaardes geval en ’n heup gebreek.

Ek is onmiddellik na Pretoria oorgeplaas waar ek op 93-jarige ouderdom ’n operasie ondergaan het, maar op Donderdag 18 Februarie was ek weer terug in Rusoord.

Dit laat my met ’n groot behoefte om uit die diepte van my hart dankie te sê vir almal wat my bygestaan het. Ek noem in die eerste plek die naam van Anne van Blerk, ons bestuurder, wat geen moeite ontsien het nie om dit vir my kinders van ver moontlik te maak om my gereeld te besoek.

Aan die begin moes die personeel my op my bed uitstoot om by my kinders te kom, maar later kon hulle my darem met ’n  rystoel by hulle kry. Ook Celeste in die kantoor het baie gedoen om dit moontlik te maak. Ek sê ook dankie aan Michellé van der Pol en haar hele verpleegpersoneel vir al die liefde en deernis waarmee hulle ons versorg.

Geen versoek of klagte is te veel om aandag te kry nie. Ek sonder ook vir Krappie, Nini en ons ander verpleegsters uit.

Almal het altyd my beste belange op die hart gedra en my met deernis versorg. Ek wil graag vir elke bejaarde buite Rusoord wat onseker is of hulle na ’n tehuis vir bejaardes toe moet gaan, sê dat Warmbad Rusoord die plek is waar ’n mens net die beste behandeling kry.

Die bekwame personeel gee werklik om vir die inwoners. Ek moet darem ook dankie sê aan my kinders en ander familie wat bereid was om te help.

Dankie, Paula, dat jy spesiaal van Bloemfontein af gekom het en Lida, dat jy altyd naby is om te help.

Ek wil ook vir dr. Nicola Havemann dankie sê vir haar geduldige oor en goeie versorging.

Ek kan nie anders as om aan ons Hemelse Vader al die dank van my hart te bring nie. Hy het my behoed en bewaar en Warmbad Rusoord in staat gestel om puik diens te lewer in Sy naam.

Hierdie brief kom uit ’n hart wat oorloop van dankbaarheid.

Related Articles

Back to top button