LettersOpinion

Brief: Man sterf terwyl mense wag vir ambulans

Daar was geen sin van dringendheid by die twee mediese beamptes nie. Hulle reaksies was baie traag.

Hein Groenewoud, Modimolle, skryf:

My stiefpa, Tobie van Tubbergh (69), het op Woensdag 3 Maart omstreeks 05:00 ’n mediese krisis beleef met ernstige asemnood.

Ek het ’n ambulansdiens in Modimolle geskakel, maar kon eers ná ongeveer 40 minute met iemand kontak maak.

Dié ambulanspersoneel het kort ná 06:00 laat weet hulle is op pad na ons kleinhoewe wat aan die dorp grens.

Ek het vir hulle die GPS-ligging gestuur en buite by die grenshek gaan wag. My ma, Martie van Tubbergh, het intussen heeltyd by Tobie gebly.

Ons het ook ’n nooddiens in Pretoria geskakel wat ons telefonies probeer bystaan het. Die Modimolle-ambulans het om 06:30 by ons opgedaag.

Daar was geen sin van dringendheid by die twee mediese beamptes nie. Hulle reaksies was baie traag — amper asof hulle nou net wakker geword het.

Teen die tyd dat hulle ’n roetine-ondersoek gedoen het, was my stiefpa reeds oorlede.

Die oorsaak van sy dood was klaarblyklik weens ’n bloedklont in die long.

Ek en my ma is erg getraumatiseer deur die skielike dood van my stiefpa. Ons kan nie ophou wonder of hy sou oorleef het as die ambulansdiens vinnig op die toneel was nie.

Ons sal in die toekoms baie mooi dink voordat ons weer hierdie plaaslike ambulansdiens kontak.

Related Articles

Back to top button