LettersOpinion

Brief: Plaaslike regering faal ekonomie

Geen onderneming kan suksesvol wees sonder betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening en met riool wat in die strate loop nie.

Michal Groenewald, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Samewerkende regering, skryf:

Die mislukking van plaaslike regering in Suid-Afrika is een van die hoofredes vir die land se sinkende ekonomiese skip.

Die land was selfs voor die Covid-19-pandemie in ’n resessie en werkloosheid het krisisafmetings aangeneem.

Landelike gebiede ontvolk en talle sakeondernemings sluit hul deure grootliks weens swak dienslewering. Geen onderneming kan suksesvol wees sonder betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening en met riool wat in die strate loop nie.

Plaaslike ekonomieë sal slegs groei indien die regering ’n omgewing skep wat sake vergemaklik en beleggers lok. Dit sal werk skep, die belastingbasis vergroot en vir almal beter lewensomstandighede skep, soos wat Sullivan and Sheffrin se ekonomiese beginsels ’n suksesvolle plaaslike ekonomie definieer.

Munisipaliteite se primêre plig is daarom volhoubare dienslewering deur goeie regering en administrasie met die klem op die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur.

Munisipaliteite moet belasting verdien en nie net invorder nie. Hierin faal die ANC-regering die mense van Suid-Afrika op skouspelagtige wyse.

Basiese dienste word nie gelewer nie. Daar is munisipaliteite waar daar in drie jaar geen vullisverwydering gedoen is nie terwyl water- en kragvoorsiening in baie gevalle slegs sporadies gelewer word. Infrastruktuur word nie in stand gehou nie en die staatskas word leeg geplunder op al drie vlakke van regering: plaaslike, provinsiaal en nasionaal.

Die regering se rasgegronde ideologiese bemagtigingsbeleid bemagtig niemand nie. Net enkele kaders trek daaruit voordeel ten koste van die totale bevolking.

Die ouditeur-generaal (OG) wys dit jaar na jaar uit. Die Grondwet van Suid-Afrika ken kernfunksies aan munisipaliteite toe en volgens die OG word dit nie uitgevoer nie weens swak bestuur, onstabiliteit, politieke binnegevegte, ’n tekort aan leierskap en geen gevolge vir blatante verontagsaming van wetgewing en misdrywe nie.

Dit sal voortduur solank as wat die ANC regeer en slegs lippediens aan die mense van die land lewer oor ekonomiese groei en werkskepping.

Arbeidswette maak dit al hoe moeiliker vir entrepreneurs terwyl al hoe meer mense van maatskaplike toelaes afhanklik is wat deur al hoe minder mense gegenereer moet word.

Die basiese regeringsfunksies moet plaasvind. Dienste moet gelewer word.

Regeringsfondse moet verantwoordelik bestee word en die vryemark moet toegelaat word om ongehinderd en sonder rasgegronde wetgewing sake te doen. Slegs dan sal die ekonomie groei.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button