Local sportSport

Laerskool Thabazimbi se atlete skitter op die atletiekbaan

Laerskool Thabazimbi het die afgelope week hul jaarlikse huissportatletiekbyeenkoms gehou.

Dié byeenkoms was in die verlede ’n hoogtepunt vir deelnemers. Die formaat is egter vanjaar aangepas om aan die Covid-19-maatreëls te voldoen.

“Ons kon nie vanjaar soos in die verlede die ouers en ander toeskouers by ons byeenkoms verwelkom nie. Die veiligheid van ons leerders en die personeel bly ons eerste prioriteit,” het Koos Venter, skoolhoof, verduidelik.

Die inperkings het egter geensins ’n demper op die leerders se geesdrif of die jolige atmosfeer geplaas nie.

 

Die atlete van Laerskool Thabazimbi het die afgelope week aan die jaarlikse huissportbyeenkoms deelgeneem. Hier sê Janike du Plessis en Carlé Engelbrecht mekaar die stryd aan.

 

Daar was oral leerders wat al singend en dansend hul maats op die atletiekbaan aangespoor het en op die veld het onderwysers oudergewoonte die atlete aangemoedig.

“Ek is trots om te sien hoe die kinders die dag geniet en steeds ywerig deelneem ten spyte van die feit dat ons dit vanjaar so klein moes hou,” het Venter gesê.

Die byeenkoms is oor twee dae aangebied. Die atlete het baie goeie prestasies gelewer en daar is verskeie nuwe rekords opgestel.

Finn Santos het die gewigstootitem vir seuns o.13 gewen met ’n rekordafstand van 10,39 m. HJ Koekemoer het op sy beurt die verspringrekord vir seuns o.13 verbeter na 4,92 m. Mojalefa Mogale het die 150 m hekkies vir seuns o.12 in ’n rekordtyd van 24,15 sekondes voltooi.

Jadeon Swanepoel het die gewigstootitem vir seuns o.13 met ’n afstand van 10,89 m gewen en in die verspringput het Micka Röhrs die meisies se naam hoog gehou deur ’n nuwe rekord vir meisies o.11 op te stel. Sy het 3,72 m gespring. Die bestaande rekord was 3,52 m.

Die dag was ’n wegholsukses ten spyte van die impak wat 2020 se inperkings op die kinders se voorbereiding vir die atletiekseisoen gehad het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button