Local sportSport

Rugbyspelers stof hul stewels af

Rugbyspelers regoor die land kan weer — ná bykans ’n jaar sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende inperkingstydperk — hul rugbystewels uit die kas haal.

Die spelers van die Thabazimbi-rugbyklub (TRK) het verlede week weer amptelik begin oefen vir die komende rugbyseisoen.

James Engelbrecht, afrigter, het aan Die Pos gesê hy en sy span sien uit na die seisoen, maar daar lê nog baie werk vir hulle voor voordat wedstryde amptelik later vanjaar kan afskop.

“’n Mens kan sien die ouens het gerus tydens die inperkingstyd,” het hy geskerts, “maar ek dink ons is nou almal reg vir die nuwe seisoen.”

Sedert pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat spansport weer toelaatbaar is, moet spelers en hul afrigters probeer aanpas by die nuwe regulasies.

“Ons mag vir die eerste vier weke nog nie ten volle fisieke kontak maak nie en daarom fokus ons nou op fiksheid en tegniek,” het Engelbrecht verduidelik.

“Ons sal meer duidelikheid hê oor wat toelaatbaar is wanneer die vier weke verby is. Hopelik sal ons gou weer op die veld wees om ons skrums en lynstane te oefen, die bal te gebruik en ’n bietjie meer kontak te maak.”

Hoewel daar ook nog geen duidelikheid is oor wanneer klubs wedstryde kan organiseer of speel nie, is die TRK-span vasbeslote om hierdie seisoen op die regte voet af te skop.

Die klub is intussen op soek na borge wat hulle kan bystaan om die nuwe seisoen behoorlik aan te pak.

Vir meer inligting oor die span se benodigdhede of hoe om betrokke te raak, bel vir James Engelbrecht by tel. 072 750 2521 of Nico Greef (TRK-spanvoorsitter) by tel. 082 366 7079.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button