CrimeNews

Nóg ’n klerewinkel in Bela-Bela beroof

Die sentrale sakesektor van Bela-Bela het op Donderdag 25 Februarie weer deurgeloop onder gewapende rowers wat ’n klerewinkel beroof het.

Die Dunns-klerewinkel in Chris Hanistraat is helder oordag beroof.

Volgens ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het drie gewapende mans die winkel omstreeks 09:30 betree en die personeellede aangehou.

Twee van die rowers het by die deur waggestaan terwyl die derde een die winkelbestuurder en personeellede gekonfronteer het. Al drie die rowers het maskers gedra.

Die rowers het ongeveer 50 nuwe selfone en R2 300 kontant, wat in die kluis was, gebuit. Die winkelbestuurder is aangerand en van sy twee persoonlike selfone beroof. Die geraamde skade beloop ongeveer R100 000. Die rowers het die personeellede in ’n stoorkamer toegesluit voordat hulle gevlug het.

Dit is nog onseker of hulle te voet of per voertuig gevlug het. Die sentrale sakesektor het in 2020 verskeie kere onder gewapende rooftogte deurgeloop.

Liquor City in Potgieterstraat is op Kersdag beroof. ’n Man van Modimolle is tydens dié rooftog gewond en is dieselfde dag dood. Voorraad van sowat R30 000 is op dié dag gebuit. Niemand is nog in verband met dié voorval aangekeer nie.

  • Twee verdagtes wat met twee afsonderlike moordsake (een in Vingerkraal en een in Radium) verbind word, het die afgelope week in die hof verskyn. Lelimo Mafoka word verbind met die moord in Augustus 2019 op ’n boer en sy werker, Simon Malebane en Daniel Ngoagamobe, op die plaas Klippan in die Radium-omgewing. Mafoka is in Johannesburg vasgetrek.

    Jeffrey Muronga word verbind met die wrede dood van Melania Ndacha Ruben (3) van Vingerkraal in November 2020. Hy is dae ná haar dood deur inwoners van Vingerkraal opgespoor waar hy op ’n nabygeleë plaas in die bosse geskuil het. Hy is erg aangerand voordat die polisie op die toneel verskyn en hom in hegtenis geneem het. Die hof het in albei sake aangedui dat daar steeds op forensiese verslae gewag word.

    Muronga se saak is uitgestel na Dinsdag 30 Maart en Mafoka moet weer op Maandag 31 Mei in die hof verskyn.

  • Die Westpack-winkel in die Bela Mall het ook op Sondag 28 Februarie onder gewapende rowers deurgeloop. Volgens die polisie het die voorval teen ongeveer 11:00 die oggend plaasgevind. Drie verdagtes was na verneem word by die rooftog betrokke. Een was gewapen en het die personeellede aangehou. Hulle het sowat R16 000 gebuit voordat hulle in ’n wit voertuig gevlug het.

Related Articles

Back to top button