Local newsNews

Modimolle-inwoners herstel sélf slaggate

’n Groep inwoners van Modimolle het ’n gemeenskapsprojek op die been gebring om die dorp se strate, wat in ’n haglike toestand is, weer begaanbaar te maak.

Met die slagspreuk “Een slaggat op ’n slag” is inwoners slaggereed om hierdie uitdaging aan te pak. Hoewel daar verskillende menings is oor die regte prosedures en werkwyses, het Sarie en Adolf van den Berg besluit hulle wag nie langer vir “iemand anders om die werk te kom doen nie” — hulle spring sommer self in en begin iets aan die saak doen.

“Ek en my man is albei Waterbergers in murg en been en was altyd trots op ons dorp, maar die huidige toestand van die dorp se paaie was vir ons skokkend,” het Sarie in ’n onderhoud met Die Pos gesê.

“Ons het besluit om iets daadwerkliks aan die slaggate in ons omgewing te doen, maar nadat ons uitgevind het watter produk en toerusting benodig word, het ons besef dat ons twee dit nie alleen sal kan behartig nie.”

Die tegniese kundigheid van Jaco de Villiers, eienaar van De Villiers Hardeware, is ingeroep.

Hy het aan Die Pos gesê: “Die slaggate moet eers uitgegrawe word voordat dit gevul word en dit moet met ’n elektriese stamper vasgestamp word. Die teermengsel wat ons verskaf is van hoë gehalte en word ook deur die Departement van Vervoer gebruik.”

Daar is ooreengekom dat R10 afslag gegee sal word per 25 kg sak en sakke teen R79 te verkoop vir die projek.

“Die idee is dat lede van die publiek een of meer sakke teermengsel by die hardewarewinkel koop en dit aan die gemeenskapsprojek skenk. Daar word noukeurig by die winkel boekgehou van skenkings,” het Sarie gesê.

“Die probleem is redelik omvattend en daarom is voorgestel om die slaggatprojek straat vir straat te hanteer. Daar is besluit om met Kerkstraat — een van die besigste deurpaaie in die dorp — te begin. Daar is tans ongeveer 85 slaggate in die gedeelte vanaf Boshoffstraat tot by die hoek van Thabo Mbekistraat (R101).”

Sarie het gesê sy en Adolf hoop om ander inwoners te inspireer om dieselfde te doen in hul eie strate.

“As almal hande vat, kan ons werklik ’n positiewe verskil in die dorp maak.”

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, ondersteun die munisipalieit die projek heelhartig.

“Sodra daar ongeveer 100 sakke teermengsel geskenk is, sal die munisipaliteit hul werkers en toerusting inspan om slaggate in die betrokke strate te herstel,” het sy gesê.

Sy het gesê vanjaar se besondere hoë reënvalsyfer het ’n baie negatiewe invloed op die paaie gehad en die munisipaliteit kon nie voorbly met herstelwerk nie.

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer in Modimolle, het aan Die Pos gesê dit help nie “almal wil die wiel herontwerp nie, want ons het reeds organisasies soos AfriForum wat soortgelyke projekte aanpak”.

Sy voorstel was: “Kom ons gooi liewer ons gewig by hulle in of sluit by die sakekamer aan om sodoende ons hande sterk te maak. Die sakekamer wil voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas sodat hulle die dienste lewer en instandhouding doen waarvoor inwoners betaal.”

Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon in Modimolle, het voorgestel dat plaveiselstene eerder gebruik word om die slaggate te herstel, omdat dit ’n meer permanente en volhoubare oplossing is.

“Plaveiselstene verweer nie so gou soos teer nie en werk ook goedkoper uit per vierkante meter,” het hy aan Die Pos gesê.

Inwoners van Modimolle is welkom om vir Sarie van den Berg te bel by tel. 082 8822 131 indien hulle betrokke wil raak by die slaggatprojek of om die volgende vergadering by te woon wat op Woensdag 3 Maart gehou sal word.

Almal word genooi om insette te lewer. Teen druktyd is daar al amper 50 sakke teermengsel vir die slaggatprojek geskenk.

Inwoners wat wil bydra tot die projek, kan vir Melanie Jansen van Vuuren bel by tel. 060 853 7890.

Related Articles

Back to top button