NewsSchools

Hoërskool Nylstroom is trots op 2020 se matrikulante

Hoërskool Nylstroom is vandeesweek breëbors nadat vier van hul leerders ses onderskeidings elk in die 2020-matriekeksamen behaal het.

Die skool se slaagsyfer is 97% uit ’n groep van 98 leerders. Hierdie mooi prestasies is behaal ten spyte van baie klastyd wat weens die inperking verlore gegaan het.

Die top presteerder is die skool se hoofseun van 2020 en Nylie van die Jaar, James Chauke. James het ’n gemiddeld van 95% vir wiskunde en rekeningkunde en 94% vir fisiese wetenskappe in sy matriekeksamen behaal en ook die vakpryse vir hierdie vakke gewen. Hy het onderskeidings in Afrikaans Eerste Addisionele Taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe behaal. Hy het sy sewende onderskeiding in Engels Huistaal rakelings misgeloop met ’n persentasie van 78%. Sy algehele gemiddeld vir al sy vakke is 87,9%. Die Pos het met James gesels.

“Ek het gedink ek gaan rondom 80% kry vir my top vakke, maar ek het nooit verwag om 95% te kry nie! My ma, ’n onderwyser by Modimolle Primary School, het saam met my tot 03:00 die oggend gewag om die eerste koerant by die winkel naby ons huis in Phagameng te gaan koop. Sy was oorstelp van vreugde,” het hy gesê.

James gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. Volgens talle van die leerders was hy ’n inspirerende hoofseun wat tydens ’n moeilike jaar die kinders om hom moed ingepraat het.

 

Hoërskool Nylstroom se topvyf matrieks van verlede jaar het rede om so breed saam met Anton du Plessis, skoolhoof, te glimlag. Saam het hom is Dezé-Lane Labuschagne, Alicia Oberholzer, James Chauke, Tjaart du Plessis en Gerhard Kotzee.

 

James het aan die begin van November by die skoolkoshuis ingetrek sodat hy sy volle aandag op sy studies kon toespits. Hy het gesê hy het ongeveer agt uur per dag gestudeer. Hy het gesê as hy terugkyk op sy skoolloopbaan by die Nylies, sal hy altyd die 2020 Bosveld Interhoër, die gr. 8-kamp en die 2019-rugbyseisoen onthou.

Alicia Oberholzer, hoofmeisie van 2020, het ses onderskeidings behaal in Engels Eerste Addisionele Taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie, rekeningkunde en fisiese wetenskappe. Wiskunde is haar kos en dit was ook haar gunstelingvak op skool. Dit is dus nie verrassend dat sy vanjaar vir ’n BSc-graad in aktuariële en finansiële wiskunde aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer nie.

Gerhard Kotzee het ses onderskeidings behaal in Engels Eerste Addisionele Taal, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe (biologie), fisiese wetenskappe en geografie. Sy gunstelingvak was geografie waarvoor hy ook die vakprys gewen het, maar sy liefde vir diere het hom laat besluit om vanjaar veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (Onderstepoort) te gaan studeer. Gerhard help graag sy oupa met die beesboerdery op hul plaas tussen Modimolle en Vaalwater en boer self met njalas en blesbokke.

Tjaart du Plessis, die skool se onderhoofseun en kranige middelafstandatleet, is net so opgewonde oor die ses onderskeidings wat hy behaal het in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie, rekeningkunde en besigheidstudies. Hy het die vakprys vir Afrikaans Huistaal en rekenaartoepassingstegnologie ontvang. Tjaart het vanjaar besigheidstudies as agtste vak geneem en dit op eie stoom baasgeraak. Hy gaan B.Com Rekeningkunde aan die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom studeer.

Sy raad aan vanjaar se matriekleerders is om nooit moedeloos te word nie, maar om hard te werk tot die einde toe.

Dezé-Lane Labuschagne het vier onderskeidings behaal in Engels Eerste Addisionele Taal, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie en besigheidstudies. Sy het die vakprys vir besigheidstudies verower en gaan vanjaar B.Com Besigheidsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Anton du Plessis, skoolhoof, het groot lof vir die leerders en die onderwysers gehad.

“Toe ons uiteindelik weer terug in die klasse kon wees, het ons nie ’n enkele sekonde vermors nie. As ’n mens besig is met die regte dinge, sal die regte dinge gebeur,” het hy gesê. “Hierdie mooi resultate is ook te danke aan die harde werk van die onderwysers in die laer grade en in ons voedinglaerskole. Dit is hulle wat die boustene lê.”

Die Waterberg-distrik is die distrik wat die beste in Limpopo gevaar het. Du Plessis het al die skole geluk gewens met hul goeie uitslae.

Die 2020-groep het 54 A-simbole behaal, 79 B-simbole en 158 C-simbole. Sewe leerders het ook hul N3-kwalifikasie verwerf.

Related Articles

Back to top button