NewsSchools

Warrie-matrieks vaar puik ten spyte van uitdagings

Hoërskool Warmbad se matrikulante van 2020 verdien ’n klop op die skouer ná ’n baie uitdagende 2020.

Die nasionale matriekuitslae is op Dinsdag 23 Februarie aan leerders beskikbaar gestel.

Altesame 103 Warries het die nasionale eksamen by die skool afgelê en die skool het ’n slaagsyfer van 98,1% behaal.

Paul Liddle, skoolhoof, het aan Die Pos gesê hoewel die skool se uitslae ongeveer 1% laer is as die vorige jaar, is hulle steeds baie dankbaar. Onderwysers en leerders het soms die werk onder moeilike omstandighede afgehandel.

 

Duime op; ons het dit gemaak! Rinus Jacobs, Alex Bekker, Albert Groothof en Henrique Huisamen staan vir ’n foto terwyl hulle wag om hul finale matriekuitslae te ontvang.

 

“Ek dink die feit dat ons skool klem lê op die bevordering van akademie, het bygedra tot ons leerders se sukses. Leerders wat probleme ondervind het, is deur ons oopdeurbeleid in staat gestel om vir hulp aan te klop,” het hy gesê.

Die meeste van die vakke is in 2020 deur middel van aanlynklasse aangebied en klasse is opgedeel om te voldoen aan die Covid-19-maatreëls vir skole.

Klasse het aansienlik laat in die jaar weer na normaal teruggekeer. Die Warries het hul staal gewys en nie minder nie as 69 vakonderskeidings behaal.

 

Anri du Preez het sewe onderskei-dings behaal. Saam met haar op die foto is haar trotse ma, Madri.

 

Die top vyf leerders was Anri du Preez (ses onderskeidings), Grizèl Lepart (vyf), Izanne van Schoor (vyf), Robyn Brooker (vyf) en Rinus Jacobs (drie). Anri het die beste presteer in rekeningkunde, fisiese wetenskappe en Engels Eerste Addisionele Taal. Grizèl deel met Anri die toppresteerderprys in Engels Eerste Addisionele Taal en het die beste in rekenaartoepassingstegnologie (RTT), Afrikaans Huistaal en ingenieursgrafikaontwerp (IGO) gevaar. Izanne het uitgestaan in wiskunde en Robyn was in lewenswetenskappe die toppresteerder.

Verder was die ander vakpresteerders Juané Janse van Rensburg (geografie), Omphilethabo Ntshudizane (Engels Huistaal), Tharallo Mogashoa (Afrikaans Eerste Addisionele Taal), Beverly Mogale (besigheidstudies), Hamza Wahed (siviele tegnologie) en Henrique Huisamen (lewensoriëntering).

 

Dié twee boesemvriende het elk vyf onderskeidings behaal. Izanne van Schoor (links) en Robyn Brooker (regs) was duidelik in hul noppies met hul puik uitslae. Albei beoog om vanjaar verder te studeer.

 

Liddle het gesê hy is trots op elke Warrie wat welslae behaal het in die matriekeindeksamen.

“Ek is hartseer oor die leerders wat dit nie gemaak het nie, maar ek raai hulle aan om van elke geleentheid wat die departement van onderwys vir hulle bied, gebruik te maak. Dit sal hulle in staat stel om aan die minimumslaagvereistes te voldoen en hul studies in die toekoms aan te pak.”

Related Articles

Back to top button