LettersOpinion

Brief: Invloed van pandemie in kontras met toewyding

Ongelykheid in die onderwysbedeling is deur die pandemie en gevolglike staat van inperking versterk.

Dr. Wynand Boshoff, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basiese onderwys, skryf:

Die departement van basiese onderwys se matriekuitslae wat op Maandag 22 Februarie bekendgemaak is, voltooi byna die prentjie van Covid-19 se ontwrigting op onderwysvlak.

Daardie prentjie verskil, afhangende van die deel waarna ’n mens kyk. Provinsies se uitslae wissel van ’n slaagsyfer van bo 86% in die Vrystaat tot 66% in die Noord-Kaap.

Dié syfer verskil drasties van die Onafhanklike Eksamenraad (algemeen bekend as die IEB) se 98%. Die derde eksamenowerheid, SACAI, se oorhoofse syfers is nog nie bekend nie. ’n Eerlike waarnemer moet verras wees dat die slaagsyfer nie in duie gestort het nie. Dit getuig daarvan dat almal wat met skoolonderrig te doen het, die ontwrigting van die inperkingstaat tot die minimum probeer beperk het.

Die feit dat meer onderskeidings, asook graad- en diplomaslaagsyfers behaal is, dui daarop dat sommige leerders selfs voordeel uit die nuwe onderwysomgewing getrek het. Ongelykheid in die onderwysbedeling is deur die pandemie en gevolglike staat van inperking versterk.

Die styging in goeie uitslae, te midde van ’n algemene verlaging in die slaagsyfer, beteken dat sommige skole ongelukkig uitgesak het en nie by die veranderde vereistes kon aanpas nie. Die toets vir ’n suksesvolle onderwysstelsel is nie matriekuitslae nie, maar skoolverlaters se prestasie in die ekonomie en in naskoolse studie. In daardie opsig is daar min, indien enige, tekens van hoop. Terwyl die werksomgewing dramaties verander, toon onderwys plek-plek ’n onvermoë om daarby aan te pas. Dit is waar die gaping tussen suksesvolle en onsuksesvolle skole nog dieper word.

Onafhanklike skole se prestasie wat dié van openbare (staat-) skole só ver oortref, word deur sommige as die gevolge van bevoorregting toegeskryf. So ’n siening getuig van ’n gebrek aan kennis, aangesien onafhanklike skole in baie gevalle juis in omgewings optree wat nie deur die regering se hulpbronne bereik word nie.

Om ’n slaagsyfer van 98% en meer te handhaaf, beteken dat alle rolspelers hul bes doen. ’n Grondliggende vraag wat selde gevra word, is die verband tussen skoolprestasie en die vakbond waaraan onderwysers behoort.

Dit sal interessant wees om ’n lys van die 50 top presterende skole, asook die 50 swakste presterende skole te sien, met die persentasie onderwysers wat aan die verskillende onderwysvakbonde behoort. Die VF-Plus glo dat so ’n ontleding op die werklike oorsaak van ongelyke onderwys in Suid-Afrika sal dui.

Die VF-Plus moedig gemeenskappe aan om die maksimum beheer oor hulle skole te neem.

Die gesentraliseerde instinkte van die nasionale en provinsiale departemente moet weerstaan word. Bande tussen skole met ooreenkomstige waardestelsels moet gebou en versterk word, ongeag of dit openbare of onafhanklike skole is.

Die skuld vir swak onderwys kan op enigeen gepak word, maar die gevolge word deur die gemeenskap self gedra.

Die toekoms lê dalk daarin om onderwysvoorsiening so ver as moontlik van die regering te verwyder.

Related Articles

Back to top button