CrimeNews

Bankkonsultant en medewerker in sop

’n Bankkonsultant en veiligheidswag van Bela-Bela het in die Inspektoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) se visier beland nadat hulle betrek is by ’n bedrogsaak.

Kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê Tebogo Millicent Molala (34) en Mokhachani John Mtabini (46) is in hegtenis geneem nadat hulle glo R1,7 miljoen vanuit drie bankkliënte se rekeninge gesteel het.

Maluleke wou nie die bank se naam bekendmaak nie. Volgens hom het die vermeende misdaad tussen 2015 en 2019 plaasgevind.

Die betrokke bedrae is glo geleidelik deur Molala uit die kliënte se rekeninge geneem en na ’n rekening van Mtabini oorgeplaas.

Die bank het snuf in die neus gekry nadat die kliënte navraag gedoen het oor onregmatige transaksies op hul rekeninge.

Die een kliënt het R1,2 miljoen verloor en die ander twee onderskeidelik R200 000 en R369 744,34.

Molala en Mtabini het op Donderdag 18 Februarie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op drie aanklagte van bedrog.

Die hof het borgtog van R1 000 elk toegestaan. Die saak kom weer op Maandag 8 Maart voor.

Related Articles

Back to top button