CrimeNews

Man vas ná hy glo leerders by swembad besteel

’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy hoofsaaklik atlete en swemmers van Hoërskool Warmbad besteel het, het agter die tralies beland.

Verskeie atlete van Van’s Vikings-atletiekklub by Hoërskool Warmbad se items is glo by dié skool se swembadterrein gesteel.

Van Reenen Cloete, afrigter, het by navraag gesê die man het hom een oggend gekontak met navrae en gesê hy wil by die klub aansluit.

Cloete rig leerders en volwassenes in swem en atletiek af. Die man het op Maandag 15 Februarie by die skool opgedaag en volgens Cloete aangenaam en baie hoflik voorgekom.

Hy het homself as ’n nooddienswerker van beroep voorgestel.

“Ons het gesels en hy het daarna gevra of hy die kleedkamers mag gebruik. Toe die swemmers klaar geoefen het, het hulle gevind dat ’n paar selfone uit hul sakke in die kleedkamers gesteel is,” het Cloete gesê. “Ek het die atlete beloof dat ek geen steen onaangeroer sal laat om die skuldige op te spoor nie.”

Cloete, ’n voormalige polisiebeampte, het die verdagte herhaaldelik per selfoon gebel, maar die man het nooit geantwoord nie. Cloete sê hy is baie oplettend van aard en het tydens hul gesprek die man se tatoeëermerke op sy arm opgemerk.

Die naam “Gabrielle” was baie prominent op sy linkerarm.

“Een van my atlete het my die middag gebel en gesê ’n man met dieselfde tatoeëermerke is by die Bela Mall en hy probeer om van die gesteelde items daar van die hand te sit.”

Cloete het die hulp van konst. Pieter Scheepers van die Bela-Bela-polisie ingeroep en hulle het hul na die inkopiesentrum gehaas waar hulle die verdagte naby die verkeerslig by die McDonald’s-restaurant vasgekeer het.

Drie selfone, ’n horlosie en ’n hele aantal simkaarte is volgens die polisie in sy besit gevind. Een van die selfone het volgens Cloete aan David Schabort, ’n Mnr. Suid-Afrika-finalis wat in Bela-Bela woon, behoort.

Die man het glo verskeie name aan die polisie verskaf, maar is later onder die naam Karabo Moloto (26) aangekla.

Moloto het op Woensdag 17 Februarie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van gesteelde eiendom, asook dwarsboming van die gereg. Die saak is uitgestel na Maandag 29 Maart vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

  • Paul Liddle, Hoërskool Warmbad-skoolhoof, het by navraag aan Die Pos gesê hulle is baie dankbaar vir Cloete se flink optrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button