Local newsNews

Oupa Freek bring Innes en Franna weer tuis

Die gedenkdiens vir twee jarelange inwoners van Modimolle, Freek en Ria Benadé, is op Maandag 15 Februarie in die Nederduits Hervormde Kerk se Waterberg-gemeente in Modimolle gehou.

Die diens is waargeneem deur wyle Freek se oudste seun, ds. Innes Benadé, en die gewyde sang is behartig deur Franna Benadé, sy jongste seun.

Baie mense sal hulle onthou as die gewilde sangpaar, Innes en Franna Benadé, wat in die tagtiger- en negentigerjare groot opslae in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak het.

Die Pos het in September 2020 berig oor Ria Benadé (87) se dood weens Covid-19 komplikasies.

Sy was bykans 20 jaar lank ’n geliefde onderwyser van Laerskool Nylstroom en voor haar dood vir 22 jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gewoon.

 

Sy seuns, Innes en Franna Benadé, die bekende sangduo van die jare tagtig, het ’n huldeblyk in die Hervormde Kerk Waterberg-gemeente gehou vir hul ontslape pa en hul tannie, Ria Benadé, wat in Augustus verlede jaar gesterf het.

 

Ria was getroud met wyle Sarel Benadé, een van Freek se agt broers. Freek is op 13 April 2020 — op die gevorderde ouderdom van 86 jaar oorlede.

Hy en sy vrou, Sue (85), het kort voor sy dood hul 63ste huweliksherdenking gevier. Hulle is geseën met twee seuns, sewe kleinkinders en een agterkleinkind. Die Benadé-familie het diep spore in die Waterberg getrap en was aktief betrokke by hul gemeenskap, asook in die Hervormde Kerk Waterberg-gemeente in Modimolle.

Die nege broers het almal, op verskillende tydperke, op die kerkraad gedien en hul suster, Trudie Kruger, is nou nog ’n lidmaat van die gemeente.

Freek is op 26 September 1933 in die destydse Nylstroom gebore en in die Waterberg-gemeente gedoop. Hy het in dié kerk belydenis van geloof afgelê, hy en Sue is daar getroud én hy het as diaken en ouderling op die kerkraad gedien. Innes het aan Die Pos vertel die egpaar se woning in Strydomstraat, Modimolle, was altyd ’n baken vir familie en vriende. Die egpaar het altyd gaste hartlik ontvang.

“My ouers het ongeveer 20 jaar gelede na Pretoria verhuis om daar te gaan aftree, maar het weens verswakte gesondheid die afgelope vier jaar naby ons in George kom woon,” het hy aan Die Pos vertel. “My pa was ’n ware Godsman met ’n onwrikbare geloof en eerbiedige respek vir God. Hy het geglo in God se genade en dat die Here ’n mens altyd ’n tweede kans gee. Die mooiste ding wat my pa ooit gesê het, was iewers in 2019 toe hy gesê het: Dit gaan met almal swaar en almal bid tot God, maar ek vra nooit vir te veel nie — ek vra net vir genoeg.

“Dit het my diep geraak en laat dink aan die Onse Vader-gebed se gedeelte oor die daaglikse brood. Nie ekstra vir oormôre nie, maar net genoeg vir vandag.”

Franna, wat steeds in die omgewing woon, onthou ook sy pa.

“My pa sal altyd my held bly. Hy was ’n yster met ’n sagte hart van goud. As ek op die plaas stil raak en mooi luister, hoor ek steeds die gedreun van die Leyland-vragmotor wat nóg ’n vrag aflaai om vir ons familie te voor- sien. Ek het beslis by my pa geleer om hard te werk.”

Related Articles

Back to top button