MunicipalNews

Munisipaliteit sê taxi’s mág hier stilhou

Inwoners van Bela-Bela het die afgelope ruk besorgd kennis geneem van ’n nuwe taxi-staanplek op die hoek van Chris Hani- en Ritchiestraat in die dorp, maar volgens die munisipaliteit word geen reël daarmee oortree nie.

Die bestaande en goedgekeurde taxistaanplek langs die Bosveld Mall in Potgieterstraat is slegs sowat 300 m van die nuwe plek waar taxi’s nou bedrywig is.

Een van die sakelui in die omgewing, Pieter Wagner van Pieter Wagner Eiendomme, het aan Die Pos gesê minibusse beset daagliks die parkeerarea voor sy kantoor. Daar is dus geen parkering vir kliënte nie, het hy gekla.

Wagner het reeds verskeie briewe aan die Bela-Bela-munisipaliteit en die polisie gestuur oor die storting van vullis op die terrein. Hy het ook melding daarvan gemaak dat drank in die openbaar misbruik word en dat daar geen badkamergeriewe is nie. Voorts het hy beweer dat talle taxi-operateurs nie aan die Covid-19-maatreëls voldoen nie.

Luidens die gewysigde vlak 3-beperkings mag taxi-operateurs slegs 70% van hul minibus-kapasiteit gebruik om mense oor lang afstande (meer as 200 km) te vervoer, maar mag hulle teen volle kapasiteit op korter afstande werk. Die beperkings vereis dat geen kliënt sonder ’n gesigmasker in ’n taxi mag klim nie en sanitasie-protokol moet deur die operateurs toegepas word.

Volgens Wagner gebeur dit glad nie voor sy kantoor nie.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie aan Die Pos gesê die munisipaliteit is bewus van die feit dat die taxi’s daar stilhou, maar hulle dra geen kennis daarvan dat daar nie aan die Covid-19-maatreëls voldoen word nie.

“Daar is tydens ’n vergadering tussen plaaslike taxi-operateurs en die munisipaliteit beslis dat taxi’s toestemming het om daar te parkeer. Die rede daarvoor is dat bejaarde mense, wat sukkel om ver te loop, daar op-en-af gelaai kan word,” het Mosito gesê.

“Die taxi’s staan almal binne die parkeerarea en maak nie gebruik van die oop stuk grond op die hoek nie. Sover ons kennis strek is daar geen probleem by hierdie oplaaipunt nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button