NewsSchools

Thabazimbi se tjokkers is gereed vir die nuwe skooljaar

Laerskool Thabazimbi het vandeesweek sy deure amptelik vir die nuwe skooljaar oopgegooi.

Met ’n moeilike skooljaar agter die rug is die leerders en personeel by dié laerskool slaggereed om die spreekwoordelike bul by die horings te pak.

 

Die tjokkers in Joey du Plessis se klas het sommer vroeg hul sitplek gekry en was gretig om met hul lesse te begin. Hier doen hulle ’n paar strek oefeninge voordat hulle aangegaan het met die werk.

 

So ver die oog kon sien, was daar blink ogies wat agter maskers vir Die Pos se verslaggewer geglimlag het. Die eerste skooldag was beslis vir die meeste kinders groot pret.

“Ons het vanjaar net een leerder gehad wat liewer wou omdraai huis toe,” het Anneke du Toit, administratiewe beampte by die gr. R-klas tong in die kies gesê.

“Buiten vir een of twee outjies wat ’n paar trane gestort het, was die meeste baie opgewonde om hul nuwe maats en onderwysers te ontmoet.”

In die Tjokkertjies-klas (gr. R) was die opgewondenheid aansteeklik en nuwe maatjies het reeds vroeg al tussen die gewoel en werskaf begin kuier en speel.

 

Die Vlinderklas met hul heldergeel hempies het reeds op die eerste skooldag geleer hoe om sosiale afstande by die skool te handhaaf. Hulle was baie opgewonde om te begin leer.

 

Die personeel se voorbereiding was puik en die nuwe akademiese jaar het op ’n hoë noot afgeskop, het die skool laat weet.

Related Articles

Back to top button