NewsSchools

Gerda Pringle kry hoofpos in Modimolle

Eenheid Primary School in Modimolle spog met ’n nuwe skoolhoof wat reeds diep spore in onderwys in die Waterberg getrap het.

Gerda Pringle was ongeveer tien jaar ’n onderwyser by onderskeidelik Laerskool en Hoërskool Warmbad.

Haar spesialisvakke is Engels en lewensoriëntering. Die Pos het met Pringle gesels oor haar nuwe aanstelling as skoolhoof. Dié pos is vakant nadat die vorige hoof, Gerda Nel, in 2020 afgetree het.

“Ek wil graag benadruk dat Gerda Nel vir my ’n mentor is. Sy het sulke goeie waardes gevestig in die 42 jaar wat sy aan die skool verbonde was. Dit is vir my ’n groot eer en voorreg om daarop voort te bou,” het Pringle gesê.

Pringle het gedurende 2017 tot 2020 haar eie sakeonderneming, Edu-discipline, in Bela-Bela bestuur waar sy opleiding aan onderwysers gebied het oor dissipline in die klaskamer en dissiplinêre verhore van leerders.

Dit het aangesluit by haar honneursgraad oor leerders met spesiale onderwysbehoeftes wat sy aan die Universiteit van Johannesburg voltooi het. Pringle het aan Die Pos gesê:

“My doelwit is om leerders se emosionele intelligensie en veerkragtigheid te versterk, want dan kan hulle enige stresvolle situasies die hoof bied. Ek wil ook leerders se geloof in God versterk sodat hulle kan floreer ten spyte van probleme of moeilike omstandighede. Dieselfde geld ook vir ons leerkragte. Ons moet mekaar ondersteun, maar ook ’n voorbeeld stel vir die leerders en aan hulle leiding bied in hierdie tye van onsekerheid.”

Eenheid se leuse, “In unity we grow”, getuig vanself, want dit is hier waar leerders saam met hul onderwysers van krag tot krag groei, het Pringle gesê.

Related Articles

Back to top button