NewsSchools

Laerskool Thabazimbi is slaggereed

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie in 2020 het skoolkinders in Suid-Afrika vir die eerste keer kennis gemaak met ’n skoolstelsel waar daar nie noodwendig ’n onderwyser voor die klas staan nie.

Leerders moes noodgedwonge op afstand- en tuisonderrig staatmaak.

Hoewel die Covid-19-pandemie nog nie verby is nie, kan skole met streng maatreëls terugkeer skool toe en só dalk weer ’n bietjie normaliteit teweeg bring.

 

Tyler de Lange van Thabazimbi gooi sommer albei duime in die lig vir die skooljaar wat begin het. Hy is in gr. 1.

 

Skole het landwyd op Maandag 15 Februarie heropen en Laerskool Thabazimbi het sy leerders met oop arms verwelkom. Die nodige voorsorgmaatreëls en protokolle was in plek en personeel was gereed. Soos ’n mens deur die gange van die skool geloop het, kon jy nie anders as om jou te verwonder aan die kinders wat so gou by nuwe reëls kan inval nie.

Die beperkings het nie hul geesdrif vir die nuwe skooljaar gedemp nie. Die skool het vanjaar 1 124 ingeskrewe leerders. Die nuwe graadeentjies het dadelik by die groter leerders ingeskakel en al kon ’n mens net hul blink ogies agter die maskers sien, was die opgewondenheid tasbaar.

Die personeel van die graadeen-klasse het sommer gou met hul leerders kennis gemaak en voor die einde van die skooldag was die angstigheid oor die nuwe “groot skool” iets van die verlede. Koos Venter, skoolhoof, het aan Die Pos gesê hy is baie opgewonde oor die vooruitsig wat 2021 vir die skool inhou.

Hy sê hoewel akademie baie belangrik is, vertrou hy dat hul vanjaar ook by ander skoolaktiwiteite sal uitkom. Die veiligheid van die leerders is eerste prioriteit. Hy het leerders en hul ouers gemaan om altyd die lekker in die lewe raak te sien; selfs in uitdagende tye.

Hy skop graag die jaar af met die volgende:

“2021 gaan ’n uitdagende jaar wees, maar daar is so baie wat ’n mens kan doen om jouself en ander gelukkig en gesond deur die skooljaar te kry. Daag jouself uit. “Doen al die dinge waarvoor jy voorheen nie tyd gehad het of kans gesien het nie. Eet gesond, oefen, leer nuwe vaardighede, raak betrokke in jou dorp, by die skool én by buitemuurse aktiwiteite.”

Hierdie is vir ons almal nog ’n jaar van onsekerheid, maar die leerders en personeel van Laerskool Thabazimbi staan reg vir enige uitdaging wat hulle in die gesig staar.

Related Articles

Back to top button