Local newsNews

Nuwe minimumloon voorspel onrus

Agri SA en die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) meen die nuwe voorgeskrewe minimumloon hou groot probleme vir die landbousektor in.

Thulas Nxesi, minister van arbeid, het op Maandag 8 Februarie in die Staatskoerant aangekondig dat plaaswerkers vanaf Maandag 1 Maart R21,69 per uur moet ontvang.

Die huidige minimumloon is R18,68 per uur. Dié verhoging van 16,1% in ’n moeilike ekonomiese jaar het talle rolspelers onkant betrap.

Nxesi het ook aangekondig dat huiswerkers nou R19,09 per uur (was R15,57) moet ontvang en algemene werkers wat deel is van die regering se uitgebreide plan van openbare werke moet R11,93 per uur (was R11,42) ontvang. TLU SA het te kenne gegee dat dié “onrealistiese styging in minimumlone” werkloosheid sal verhoog.

Op sy beurt sal dit swakker ekonomiese groei teweeg bring, asook onrus weens nypende voedseltekorte. Henk van de Graaf, TLU-Noordstreek-voorsitter, het aan Die Pos gesê dié styging druis teen die vryemarkstelsel in en is in werklikheid onregverdig teenoor plaaswerkers.

“Werkers word nie self die keuse gegee waarvoor hulle bereid is om te werk nie. As hulle ’n keuse gehad het, sou talle werkers kies om teen ’n laer salaris te werk as om glad nie werk te hê nie.”

“Werkers gaan nou by die regering moet aanklop om toelaes en moet dan tevrede wees met die maandelikse R1 400-toelae, terwyl hulle nog vir die bestaande minimumloon (ongeveer R3 400 per maand) kon gewerk het. Daar word boonop geen onderskeid getref tussen mense met vaardighede of ervaring nie, want elke werker moet dieselfde loon kry.”

Volgens hom sal dit boere se salarisrekening met ongeveer R500 per maand per werker verhoog.

“’n Boer met 100 arbeiders sal dus sowat R50 000 per maand meer moet betaal. Die gewasboere word veral negatief deur die verhoging geraak. Hulle kry eers aan die einde van ’n seisoen ’n inkomste wanneer oeste suksesvol gelewer is. Daardie boere het nie almal voorsiening gemaak vir hierdie bykomende las op hul kontantvloei nie. Dit kan ’n wesenlike verskil maak in ’n seisoen wat gemiddeld ses maande lank is.”

Die Landbank — wat tans geen lenings of bedryfskapitaal kan voorskiet nie — is nog ’n bron van kommer en kan tot reuseaflegging van werkers lei, het Van de Graaf gesê. Daar word in die Waterberg-omgewing met onder meer wild, groot- en kleinvee, mielies, katoen en verskillende soorte groente geboer.

“Produkte se pryse is baie wisselvallig en boere bepaal nie noodwendig hul eie pryse nie. Daar is boere wat tans nog nie lande bewerk het nie, maar die werkers moet maandeliks hul salarisse ontvang.”

TLU SA beveel boere aan om waar moontlik te meganiseer.

“Dié aanbeveling word gedoen om voedselsekuriteit te verseker. Die verhoogde maandelikse loongeld kan in talle gevalle vir die paaiemente van hoogs gespesialiseerde toerusting gebruik word. Dit kan op die lang duur produktiwiteit verhoog en die gevaar van nywerheidsgeskille uitskakel,” het hy gesê.

“Meganisasie word met elke verhoging van minimumlone vir die boer ’n meer haalbare opsie.”

TLU SA is tans in die proses om teen die verhoging te appèlleer.

“Suid-Afrikaanse boere sorg, ondanks al die huidige uitdagings, dat daar kos op die tafels is.”

Related Articles

Back to top button