Local newsNews

Man sterf ná gebou aan die brand slaan

Toeskouers het die afgelope naweek verslae toegekyk hoe ’n gebou in die hoofstraat van Modimolle in vlamme opgegaan en bykans heeltemal verwoes is.

Omstanders het vertel hoe daar naarstigtelik probeer is om ’n man, wat vermoedelik in een van die winkels geslaap het, te red, maar hulle kon nie daarin slaag nie.

Die Pos verneem dat die oorledene ene Nasir Abbas (32) is. Sy familie is erg getraumatiseerd en het sedert die voorval by die perseel gewaak.

Dit was teen druktyd nog onduidelik hoekom daar klaarblyklik mense in die sakepersele oornag het. Die brand het op Vrydag 5 Februarie omstreeks middernag in die Momin/Munawara-gebou, reg langs Blue Bottle Liquors ontstaan. Dit is op die hoek van Nelson Mandela- en Thabo Mbekistraat.

 

Die ou Tamsen-winkel. Foto: argief

 

Die brand het vermoedelik ontstaan in die winkel wat selfone en elektroniese ware verkoop, maar vinnig versprei na die aangrensende klerewinkel en supermark in die rigting van die drankwinkel.

Die Pos het met Fanie Pretorius, operasionele bestuurder van Jumas Security, gesels. Pretorius en sy seun, Francois, was van die eerste mense op die toneel en het dadelik die plaaslike brandweer en polisiestasie in kennis gestel van die brand.

“Ek en Francois, ’n tegnikus by Jumas Security, was op pad terug van ’n roetine-inspeksie by ’n ander perseel toe my seun die rook opgemerk het. Ons het dadelik stilgehou om te help. Ek het twee mans gesien wat na die selfoonwinkel gehardloop het. Hulle was klaarblyklik op soek na een se broer, maar die voorkant van die winkel was reeds deur vlamme verswelg. Ek wou ingaan om die man te probeer red, maar die plafon het ineengestort,” het Fanie vertel.

Volgens Fanie was die ander twee mans ongedeerd.

“Ek en my seun het probeer om die vlamme met ons draagbare brandblussers te blus, maar dit het te vinnig versprei. Daar is ’n paar woonstelle op die eerste vloer van die aangrensende gebou. Toe ons besef die brand is besig om buite beheer te raak, het Francois soontoe gehardloop om die inwoners te waarsku en die woonstelle te ontruim. Neville Ledge, een van ons kollegas, woon ook in een van die woonstelle en hy het ons dadelik gehelp.”

Die plaaslike brandweerdiens het volgens hulle sowat 10 minute later opgedaag. Volgens Fanie het die drie brandbestryders hul bes probeer om die brand onder beheer te kry.

“Ek en twee van my kollegas, Louis Mienie en Neville Ledge, het hand bygesit met die hantering van die brandslang, terwyl die brandweermanne gepoog het om die vlamme in bedwang te bring en só die aangrensende geboue te beskerm,” het hy aan Die Pos vertel.

Volgens ooggetuies is die oorskot van ’n man in die heel agterste hoek van die selfoonwinkel gevind.

Die liggaam is omstreeks 03:30 Saterdagoggend deur die polisie se forensiese afdeling verwyder.

Die Pos het na afloop van die tragedie met Mazher Hussain gepraat. Hy het bevestig dat Nasir Abbas (32) in die brand omgekom het.

Volgens polisiewoordvoerder AO James Findlay ondersoek die polisie se forensiese afdeling die oorsaak van die brand. Geen verdere inligting is tans beskikbaar nie.

  • Die deel van die gebou wat in die brand beskadig is, grens aan die historiese ou Tamsen-gebou wat bykans 140 jaar oud is.

    Die Tamsen-familie was een van vyf families wat hul in die destydse Nylstroom gevestig het toe die dorp in 1866 gestig is.

    Die eerste winkel in die dorp is in 1882 deur Emil Tamsen, Nylstroom se eerste burgemeester gebou. Aanvanklik was die winkel ’n algemene handelaar, met enigiets van kruideniersware tot boumateriaal en myngereedskap.

    Dit het later jare die bekende Tamsen Drankwinkel geword en word sederdien steeds as drankwinkel bedryf.

  • Skandeer die foto met in die gedrukte weergawe van Die Pos met jou slimfoom om die video op PixzAR toep te sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button