CrimeNews

Groot kommer oor kabeldiefstal, skrootverkope en infrastruktuur

Die beskadiging en diefstal van krag- of watertoevoerinfrastruktuur het die afgelope jaar drasties toegeneem.

Daar is gereeld klagtes in die Bela-Bela-omgewing oor die diefstal van transformators, kabels of ander elektriese toerusting wat as skrootmetaal verkoop word.

Volgens ’n ingeligte bron in die polisie, wat anoniem wou bly, behoort die wysigingswet op strafregtelike sake (The Criminal Matters Amendment Act) as teenvoeter gebruik te word vir diefstal wat ’n hele gemeenskap raak.

Die wet is ontwerp om noodsaaklike infrastruktuur te beskerm.

“Dié wet maak voorsiening vir swaarder strawwe wanneer dié soort diefstalle ’n hele gemeenskap raak,” het die bron gesê.

Daar was die afgelope drie maande verskeie kabeldiefstalle in die Bela-Bela-polisiëringsgebied. Luidens die bron word oorhoofse treinspoorkabels gereeld in die Tweefontein-, Eersbewoond-, Tokomane- en Pienaarsrivier-omgewing gesteel.

“Die diefstal van oorhoofse treinspoorkabels is kommerwekkend. Die verlies en skade aan dié infrastruktuur word tans op bykans R3 miljoen geraam,” het die bron gesê.

“Die tweede kommerwekkende tendens is transformators wat van kragpale gehaal word en dan van die koperkomponente gestroop word. Die meeste voorvalle wat by die polisie aangemeld is, is in Roodekuil-, Klippan-, Leeuwkuil-, Roodepoort-, Noodhulp-, Hetbad-, Vooruitzicht- en die Entebbe-gebied.

Die geskatte verlies weens transformatordiefstal beloop R213 500. Die diefstal van infrastruktuur op plase kan onder dieselfde wysigingswet hanteer word.

Die bron het gesê wanneer waterpompe, spilpuntmotors en watertoevoerlyne gesteel word, bring dit die noodsaaklike hulpbronne van mense in gedrang.

Die gebiede waar hierdie soort diefstal die afgelope tyd hoogty gevier het, sluit in die Roodekuil-, Bala- (Settlers) en Klippan-omgewing. Daar is ook verskeie voorvalle in die Merino-vlakte en die Bela-Bela-township aangemeld. Volgens inligting beloop die skade na raming reeds R146 800.

Oortreders wat ingevolge dié wet aangekla word, kan ’n vonnis van tot 30 jaar tronkstraf of ’n boete van R100 miljoen (maksimum) opgelê word.

Die bron het voorts gesê die diefstal van huishoudelike kragdrade of koperpype word nie in dieselfde lig beskou nie. Dit word beskou as individuele huishoudings wat geraak word en nie gemeenskappe nie.

Sulke klagtes sal as gewone diefstal of saakbeskadiging hanteer word en is ook strafbaar ingevolge die nasionale strafproseswet.

Diewe wat van kleiner diefstalle, huisbrake of saakbeskadiging aangekla word, word in die meeste gevalle deur die howe ’n boete of tronkstraf opgelê wat vir drie jaar opgeskort word.

Die polisie raai Waterbergers aan om enige verdagte aktiwiteite dadelik onder die polisie of hul buurtwag se aandag te bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button