Local newsNews

Nuwe internetkontrakteur van Bela-Bela wil pale oprig

Inwoners van Bela-Bela is die afgelope ruk deur kontrakteurs genader om toegang tot hul erwe te verkry om pale op te rig.

Talle inwoners het aan Die Pos gesê hulle is maar huiwerig en skepties om aan vreemdelinge toegang tot hul persele te verleen.

Die werkers in hul helderoranje oorpakke is van Herotel, ’n internetdiensverskaffer van Gauteng, wat tans in Bela-Bela werk om die internet infrastruktuur van die dorp uit te brei.

Die ander diensverskaffer, Vumatel, wat geruime tyd reeds besig is om optiese veselkabels aan die kant van strate te lê, hou geen verband met die nuwe kontrakteurs nie.

Hoewel hulle onafhanklik van mekaar werk is, is die projekte nou verbind. Vumatel se werk is die voorloper vir die opgradering van internetnetwerke wat deur Herotel gedoen sal word, het een van die kontrakteurs die afgelope week aan Die Pos gesê.

’n Woordvoerder van Herotel het aan Die Pos gesê hulle wil graag die samewerking van inwoners kry sodat pale geplant kan word om optiese veselkabels oorhoofs na huise te herlei.

“Dit is mense se reg om ons toegang te weier. Wanneer dit gebeur, probeer ons by hul bure. As ons geensins toegang verkry nie, sal ons moet teruggaan na die beplanningsfase om ons oorhoofse kabels op te rig. Dit sal dan net langer neem om aan die verbeterde netwerk gekoppel te word,” het Yarico Lategan, Herotel-konsultant, gesê.

“Die strate waar ons beplan om pale te plant, is Mentzlaan, Moffatstraat, Robertsonweg, Flamboyantstraat en Reitzstraat, asook in dele van die dorp se sentrale sakesektor. Daarna sal ons ander strate oorweeg,” het Lategan gesê.

Lategan het gesê die instandhoudingswerk op die infrastruktuur is minimaal en oorhoofse kabels kan nie direk beskadig word tydens enige grondwerke nie.

“Die enigste risiko met oorhoofse kabels is stormskade, maar selfs dan behoort die instandhoudingswerk op die infrastruktuur minimaal te wees. Ons kan ook vinniger die fout opspoor omdat dit bogronds is.”

Die projek sal na verwagting teen Mei vanjaar voltooi wees. Vir navrae kan mense vir Lategan direk bel by tel. 082 304 6456 of vir Charles Lubbe, projekbestuurder, by tel. 063 662 0961.

Related Articles

Back to top button