CrimeNews

Moordverdagtes verskyn sewende keer

Die drie verdagtes wat verbind word met die moord op Alwyn van Zyl (78) op 20 Maart 2020 op die plaas Badseloop buite Mookgophong, het op Donderdag 21 Januarie vir die sewende keer in die Mookgophong-landdroshof verskyn.

Die drie se borgtogaansoek kon nie aangehoor word nie omdat daar nog gewag word op forensiese uitslae.

Die saak is uitgestel na Woensdag 3 Februarie sodat hulle regsverteenwoordiger teenwoordig kan wees wanneer die klagtes deur die staat aan hulle gestel word.

Hul regsverteenwoordiger kon nie die hofverrigtinge bywoon nie omdat hy ingevolge die Covid-19-regulasies in isolasie was, het die hof gehoor.

Die verhoor is intussen na die hooggeregshof in Polokwane verwys en sal na verwagting eers in 2022 aangehoor word.

Die drie verdagtes, Ugerius Saga (30), Loyd Mabundo (28) en Tatenda Ngwenya (32), is sedert Maart 2020 in aanhouding. Hulle word onder meer aangekla van huisbraak en moord.

Die verdagtes bly in aanhouding en die polisie soek steeds na ’n vierde verdagte wat verbind word met die saak.

Die Van Zyl-familie was duidelik verlig oor die vordering wat daar tot nou gemaak is en het aan Die Pos gesê hulle is vol vertroue dat die reg nou sy verloop sal neem.

Van Zyl se vrou, René van Zyl (74), is tydens die aanval aangerand en van die egpaar se besittings is geroof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button