MunicipalNews

Raadslid sélf al moedeloos oor Bela-Bela se verkeersafdeling

Inwoners van Bela-Bela is moedeloos en wend hul nou na politici om hulle te help in hul pogings om geldige rybewyse en registrasiedokumente vir voertuie by die plaaslike verkeersafdeling te verkry.

Tinus Ras (DA-raadslid), Die Pos, asook lede van die wykskomitees se fone lui gereeld met klagtes van ontevrede inwoners wat kla oor diens by dié verkeersafdeling.

“Almal, myself ingesluit, is al moedeloos oor die stand van sake by dié afdeling,” het Ras die afgelope week aan Die Pos gesê.

“Aansoekers staan dag in en dag uit in lang rye in die bloedige son of reën en wag om gehelp te word. Wat my ontstel, is dat die bestuurspan by die afdeling die meeste kere nie eens beskikbaar is nie.” Mense het die afgelope ruk weer onverpoosd gekla oor amptenare wat sê hulle het nie papier om dokumente op te druk nie en ook dat vingerafdrukke wat geneem is, nie meer aanvaarbaar is nie. Inwoners beskuldig die afdeling voorts gedurig dat hule kommunikasievermoë met die publiek pateties is. Ras het aan Die Pos gesê hy het self die afdeling verlede week een oggend om 09:30 besoek. Op daardie stadium was daar nog geen aansoeker (binne of buite) gehelp nie, het hy gesê.

“Ek het ook gevind dat die personeel die mense se tyd gemors het. Hulle is besig om agterstallige leerlingbestuurdersbewyse te prosesseer. Die inwoners wat buite gestaan en wag het, is nie ingelig daaroor nie en sover ek kon vasstel, was geen van die aansoekers van die leerlingbestuurslisensies daar om die dokumente te kom afhaal nie.”

“Die personeel moet hul sake in orde kry. Ek het die gebou verlaat sodat ek inwoners buite kan inlig oor die stand van sake en met my terugkeer vir verdere navrae het die veiligheidsbeampte my toegang geweier. Dit het my baie omgekrap.”

Ras het op ’n ander manier weer toegang tot die gebou verkry waarna ’n superintendent hom die versekering gegee het dat inwoners wat in die rye staan en wag “spoedig” gehelp sou word.

“Die hoof van verkeer, die hoof van die lisensieafdeling, asook die munisipale bestuurder is om een of ander onverklaarbare rede nie beskikbaar om te sorg dat hierdie diens doeltreffend gelewer word nie.”

’n Opvolgvergadering met die munisipale bestuurder sal na verwagting aanstaande week by die afdeling plaasvind, het Ras gesê.

Ras raai intussen mense aan om met hul versekeraars in verbinding te tree indien hul rybewyse verval het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het onlangs in die Staatskoerant verklaar dat rybewyse wat tussen 26 Maart en 31 Desember 2020 ongeldig geraak het, steeds tot 31 Augustus 2021 geldig is. Hoewel die meeste versekeraars die aankondiging aanvaar het en hul kliënte teen skade sal aanhou dek, is nie almal wat versekering het vir voertuigskade gedek nie, het Ras gesê.

Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gestuur, maar hy het teen druktyd weer nie gereageer nie — soos tientalle kere die afgelope jaar wanneer Die Pos klagtes na hom verwys het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button