Local newsNews

Ligloop vir slange, waarsku kenners

Hospitale is onder druk weens die Covid-19-pandemie, maar hoe gemaak indien ’n mens dringend mediese hulp nodig het ná ’n slangbyt.

Dít is ’n dilemma wat meer as een Suid-Afrikaner die afgelope jaar geraak het.

Die Pos het vir Arno Naudé, gerespekteerde slangkenner, geraadpleeg. Naudé is die stigter van Snakebiteassist, ’n aanlyn-hulpblad wat die publiek touwys maak oor slange en die gevare wat hulle inhou. Volgens Naudé is minder teengif gedurende die inperkingstyd vervaardig en voorraad is tans skaars.

“Niemand is presies seker watter hospitale tans teengif beskikbaar het nie. Pasiënte of hul dokters moet dus eers navraag doen oor die beskikbaarheid van teengif. Dit is in die meeste gevalle makliker om teengif te bekom en dit by die pasiënt te kry, as wat pasiënte na plekke geneem moet word waar teengif beskikbaar is.”

Teengif kan slegs deur dokters toegedien word. Daar bestaan ’n gevaar dat pasiënte ’n allergiese reaksie teen die gif kan hê en dan is mediese sorg dringend noodsaaklik, het hy gesê.

“Slange beskik oor verskeie soorte gif, maar die mediese gemeenskap deel dit op in drie groepe wat dit die maklikste maak om te identifiseer en dan die korrekte behandeling te gee,” het hy gesê.

Die drie soorte gif is neurotoksiene, sitotoksiene en hemotoksiene.

“Alle slange het ’n kombinasie van al drie die gifsoorte (asook ander), maar gewoonlik sien ons sekere simptome en dan weet ons wat die behandeling moet wees, asook waarvoor om uit te kyk,” het Naudé gesê.

“Neurotoksiene is die gifsoort wat ’n mens die vinnigste kan doodmaak, want dié gif keer laat spiere saamtrek wat tot versmoring kan lei.”

“Die gif wat pyn en fisieke skade veroorsaak is die sitotoksiene, wat weefsels beskadig en moontlik mense in skok laat wat dan tot hul dood kan lei.”

“Hemotoksiene raak die pasiënt se bloedvloei. Die bloed kan nie stol nie wat dan tot gevolg het dat die persoon inwendige bloeding kan kry. Dié tipe gif neem egter langer om tot ’n pasiënt se dood te lei en is minder ernstig.”

Slange wat neurotoksiene het, sluit swartmambas, groenmambas, Kaapse kobras, boskobras, Egiptiese kobras, rinkhalse en seeslange in. Dié met hemotoksiene is die boomslang, takslang en voëlslang. Die slange met sitotoksiene is pofadders, gaboenadders, Mosambiekse spoegkobras, sebraslange en sluit ook die swartkeelspoegkobra van Namibië in.

“Indien iemand deur ’n giftige slang gebyt word, beteken dit nie noodwendig die doodsvonnis nie. In die meeste gevalle sal teengif die werk doen, maar daar is geen boererate wat werk nie — nie op mense of diere nie,” het Naudé gesê.

Sy raad is om ’n professionele slangvanger te kontak indien mense op slange afkom en om kontak te vermy.

Vir meer inligting kan mense die Snakebite- assist-webtuiste by Snakebiteassist.co.za besoek. Vir noodgevalle en raad kan mense vir Naudé bereik by tel. 083 739 9303 of vir Heidi Pfeifer by tel. 083 374 7087.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button